‘Hou op praat en doen eerder, én skep so werk’

Rommel en vullis in Oudtshoorn

’N BEKOMMERDE inwoner van Oudtshoorn, Dries Jooste van Pringlestraat, het vandeesweek by Die Hoorn ingeloer, om sy bydrae te lewer oor hoe inwoners rommel en vullis in die dorp saam kan takel.
“Mense moet ophou praat en begin doen. Ons kan werk skep deur te kyk na waar die behoeftes is.”

Jooste het ’n paar wenke gegee oor hoe hy glo die vullisprobleem op die dorp bekamp kan word:
• Leer wanneer en hoe laat vullisverwyderingsdae is. Moenie jou vullissakke te vroeg of te laat uitsit nie. Mense en honde skeur die sakke oop en strooi vullis.

• Gee vir die “sakkrappers” iets soos ’n broodkoepon as aanmoediging om jou omgewing se sakke op een plek bymekaar te plaas. Dit gee vir hulle ’n werkie en hou die straat skoon. As hulle die sakke oopmaak, moet hulle dit weer netjies toemaak. Wees egter duidelik dat as iets buite die sak lê, dit opgetel moet word.

• Sodra die straat se sakke op een hoek of plek is, sal die vullisverwyderingstrok vinniger kan werk deur net van een oplaaiplek na die volgende te ry, in plaas daarvan om by elke huis te stop. Dit sal ook beteken dat minder geld aan brandstof en instandhouding bestee word.

• ’n Betalingstelsel kan uitgewerk word vir die werkloses. Gee ’n klein bedrag of koeponne sodra hulle sakke verwyder of help skoonmaak het. Dit sal die mense meer rede gee om die strate skoon te hou.

• Opvoeding is belangrik. Lig kinders by skole asook gemeenskappe wat vullis strooi in oor die gesondheidsgevare van vullis wat rondlê.
“As elke persoon saamwerk, kan ons hierdie hele dorp weer mooi maak. Daar is trots daarin om skoon te maak. Dit is vir almal lekker om in ’n skoon, netjiese omgewing te woon.”

• Die Hoorn nooi inwoners om wenke te gee en betrokke te raak by maniere om die dorp skoon te hou.
Dankie aan inwoners uit die om­gewing van die Bridgton Sportstadion vir terugvoer. Inwoners daar het laat weet dat die munisipaliteit ge­reeld daar skoonmaak en dit al beter lyk. Daar is egter nog baie inwoners wat rommel strooi.

Log in with your credentials

Forgot your details?