Elke boom op ’n register

Deur Liesel le Roux
ELKEEN van die inheemse bome wat tans op Oudtshoorn geplant word as deel van die Oudtshoorn Besigheids­kamer se Bome van Hoopprojek, is deel van ’n boomregister met presiese koördinate waar dit geplant is en wanneer.

Daar is boonop ’n plan vir elkeen van die bome wat geplant word en daar is ook mense of organisasies wat verant­woordelikheid neem vir die natlei en versorging van bome.

Jaco Vorster, ondervoorsitter van die Besigheidskamer, sê geen bome sal net geplant word as daar nie deur iemand eienaarskap daarvoor aanvaar word nie.

Die Besigheidskamer neem byvoorbeeld self die verantwoordelikheid vir die bome wat op die oop stuk grond langs die CP Nel Museum geplant is, terwyl die bome wat in Dassieweg naby die Smartie Town-sirkel geplant is, met gesuiwerde munisipale rioolwater deur munisipale werkers natgelei word.

“Ons wil inwoners vra om betrokke te raak en bome aan te neem. Ons het mense nodig wat sê: ‘Ek sal na die bome kyk!’

“Dit is belangrik dat die bome eienaars moet hê wat bereid sal wees om dit water te gee en te versorg. Ons wil vra dat mense wat ’n boom of bome wil aanneem, hul name by die Oudts­hoorn Besigheidskamer afgee.” Die telefoonnommer van die Besigheidskamer is 044 272 6637 en die kamer se e-posadres business@odnchamber.co.za.

Individue en besighede wat die boomplantini­siatief finansieel wil of kan steun, kan skenkings maak in die rekening van die Oudtshoorn Besigheidskamer by ABSA, takkode: 632005, reke­ningnommer: 4057514616 met die verwysing: Boom van Eenheid.

• Zouwe Lesia, bestuurder parke en rekreasie by die Oudtshoorn Munisipaliteit, het op haar beurt ’n beroep op inwoners van die dorp gedoen – veral inwoners in die omgewing waar die bome geplant is – om eienaarskap te neem van die bome en dit nie te beskadig nie.

• Die Besigheidskamer beoog om voor Mei volgende jaar 600 bome in Oudtshoorn te plant, en om volgende jaar ’n projek te loods waardeur 100 000 inheemse nuwe bome geplant en versorg word teen 2025.

Log in with your credentials

Forgot your details?