‘Dis ons trots en gee ons woema!’

Anita Stanley (links) en Harriet Samson die twee vroue wat die ingang vanaf Calitzdorp en Mosselbaai in stand hou. Foto: Liesel le Roux

AS jy ’n liefde het vir jou werk, sal dit weerspieël word in dit wat jy doen, sê Harriet Samson van Oudtshoorn.

Sy is saam met Anita Stanley verantwoordelik vir die instandhouding van die dorpsingang vanaf die R62 en Mosselbaai wat die afgelope jaar opgegradeer en mooigemaak is.

Ronell Louw, die Oudtshoorniet wat vroeër vanjaar die leiding geneem het met die verfraaiing van die ingang, sê Samson en Stanley is staatmakers vir wie se toegewydheid sy groot waardering het.

Hulle het van die begin af saam met ander werkers die ingang skoongemaak en bome en vetplante geplant, maar nou is dit hulle twee se verant-­woordelikheid om die tuine by die ingang te onderhou.

Dié twee vriendelike vroue, wat sedert verlede Desember by die Oudtshoorn Munisipaliteit werk, is duidelik baie trots op dié mooi dorpsingang.

“Dié plek is ons verantwoordelikheid, en dit is ons trots. Dit is ’n lekker gevoel om te hê. As mense wat verbyry, stop en ons komplimenteer, voel ons lekker.

“Dié plek is nou ook die mense se trots en dit gee ons woema!” sê Samson.

Sy sê hulle sien elke dag uit na hul werk – om mekaar te sien en ook hul werk te doen.

“Ons gee selfs ’n bietjie berading as iemand verbykom.”

Die kameraadskap wat tussen hulle ontstaan het sedert hulle mekaar ’n jaar gelede leer ken het, het tot gevolg dat hulle saam elke dag se werk beplan en mekaar vertrou.
“Ons glo ons is met ’n doel hier geplaas,” sê Samson ernstig.
Stanley vertel dat baie mense, ook buitelanders, deesdae by die besoekersaftrekpunt stilhou.
Die besoekers neem ook graag foto’s van hulleself met die volstruisvlerke wat teen die muur geskilder is, as agtergrond.
“Ons maak ’n punt daarvan om besoekers vriendelik te groet en te wys waar hulle foto’s met die volstruisvlerke kan neem,” sê sy.

(Deur Liesel le Roux)