Bank skenk twee huise

Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester (regs), en Gerrit du Toit van Standard Bank) knip die lint by die oorhandiging van twee huise wat die bank vir inwoners laat bou het.  Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
’N 89-JARIGE vrou en ’n egpaar van wie die man gestremd is, het verlede Vrydag die eienaars van hul eie huise geword danksy die besluit van ’n bank om twee huise vir lede van die Oudtshoorn-gemeenskap in 19de Laan in Bongolethu te bou.

Trane van blydskap het gerol tydens die oorhandiging van die sleutels aan Elizabeth Coerecius (89) en die Blom-egpaar, Koos (51) en Betty (50).

Koos moet dikwels ’n rystoel gebruik om oor die weg te kom.

Die ontvangers en hul families het voorheen in moeilike omstandighede in opslaanhuise in agterplase gewoon.

Hulle het aan ’n aantal spesifieke vereistes voldoen om vir die huise te kwalifiseer.

Hulle naam was op die Wes-Kaapse behuisingsdatabasis terwyl hulle ook voldoen aan die vereiste dat hulle ouer moet wees as 60 jaar, of gestrem moet wees of kinders moet wees wat sonder ouers grootword.

“Ons het ’n nuwe vennoot in die voorsiening van behuising,” het die uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, in sy toespraak gesê.

Volgens Sylvester het Standard Bank met dié inisiatief ’n saadjie gesaai waarmee hulle ’n voorbeeld stel aan ander groot besighede. Hy het die hoop uitgespreek dat dié saadjie behoorlik sal groei.

“Daar is vandag niks meer waardevol as om jou eie huis te besit nie. Dit is ’n hawe, nie net vir die eienaars nie, maar ook vir hul kinders en kleinkinders.”

Hy het ’n beroep op die nuwe huiseienaars gedoen om ’n testament op te stel omdat dit al dikwels in die verlede gebeur het dat families verskeur word omdat daar nie ’n testament opgestel is nie.

Volgens Sylvester is die skenking van die huise ook ’n bewys dat daar steeds mense is wat aan andere dink.

“Dit gee hoop vir die toekoms,” het hy gesê.

Gerrit du Toit van Standard Bank het in sy toespraak gesê die bank het in 2018 besluit om ’n verskil in die Oudtshoorn-gemeenskap te maak en twee huise te bou.

’n Inwoner van 19de Laan, Sindiswa Matika, het die nuwe intrekkers in die buurt verwelkom.

“Vandag is vir ons almal ’n groot dag. Ek is bly dat daar nou ’n mooi nuwe huis staan op die oop spasie langs my huis.

“Hierdie is ’n veilige gebied en ons verwelkom julle vanuit ons harte.

“Die mense hier is vol liefde en ons sal kyk na ons nuwe bure.

“Soos die Bybel sê: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Log in with your credentials

Forgot your details?