84 jaar jonk en steeds by die werk!

Miny Geÿer, ’n bekende gesig vir talle Oudts­hoorniete het Saterdag haar 84ste verjaarsdag gevier. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
Ná haar verjaarsdag die afgelope Saterdag is die 84-jarige Miny Geÿer nog lank nie reg om af te tree nie.

“Wat wil ek by die huis maak?” vra sy.

Miny, soos sy bekend is onder Oudtshoorniete, is gebore as Jacomina Maria Geÿer “My oorlede man was ’n Duitser, daarom die twee kolletjies op die ‘y’,” dring sy aan tydens ons gesprek.

Meas Geÿer, is 20 jaar gelede oorlede. Sy is met hom getroud vyf jaar nadat haar eerste man, Chris van Huyssteen, by wie sy een seun gehad het, ook oorlede is.

Miny is op Knysna gebore en het daarna meer as 60 jaar daar gewerk, eers by Templars, ’n alge­mene handelaar, en daarna by Barbera’s Boutique.

Nadat sy sowat 20 jaar gelede na Oudtshoorn verhuis het waar haar twee broers, Raymond en Willy Mithchelle, reeds gewoon het, het sy by Feathers Boutique begin werk. Sy werk steeds daar.

Die meeste 84-jariges sou aftree, rus en ’n rus­tige lewe lei, maar nie dié merkwaardige vrou nie. Afgesien van haar daaglikse werk bak sy ook muffins en maak broodjies vir ’n plaaslike onderneming wat dit verkoop.

Sy vertel sy bly by haar seun, help gereeld met huistakies, maak tuin en spog met ’n pragtuin vol vetplante omdat sy graag ’n waterbesparingstuin wou hê. Sy moes ophou rolbal speel weens haar besige skedule, vertel sy laggend.

Op haar dag was sy ’n kranige pluimbalspeler en spog met baie medaljes wat sy in die sport verwerf het.

Op ’n vraag oor wat haar geheim is om steeds so vrolik en lewenslustig te wees en altyd te glimlag, skerts sy dat sy nie juis hoef te oefen nie omdat sy daagliks genoeg oefening in die winkel kry. Sy eet ook net wat vir haar lekker is, alhoewel sy nie groot porsies kos eet nie.

“Mense en modes is my passie, en dis vir my lekker om elke dag met mense te werk, al is dit net iemand wat verby die winkel stap en vir my waai,” sluit sy af.

Log in with your credentials

Forgot your details?