2020 bome word in 2020 bedek!

Daar is verlede Vrydag lekker saamgekuier toe die Oudtshoorn ReWOLusie in die Toekomsrussaal afgeskop het; met selfs ’n paar manne wat leer hekel en brei het. Hier wys Johan Breunissen (links) en Jaco Vorster hul eerste pogings! Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
DAAR is groot toekomsplanne vir Oudtshoorn se wolbom-projek – die Oudtshoorn ReWOLusie – wat vanjaar wyd aandag tydens die KKNK ge­trek het toe bome, heinings en pila­re met brei- en hekelwerk verfraai is.

Die projek, wat verlede Vrydag in die Toekomsrus Gemeenskapsaaal afgeskop het, wil reeds vanjaar die Vaardigheidskool se voetbrug in Langenhovenweg wolbom.

“Ons wil dit so gou moontlik doen, dit gaan ons vlagskip-projek wees,” sê Madeleine Miles, inisieerder van die projek. “Dit is iets wat almal die hele jaar raaksien wanneer hulle daar loop of ry en wat hulle kan her­in­ner aan die ReWOLusie. Ons hoop ook dat dit besoekers en toeriste sal nuus- kierig maak oor ons wolbommery.”

Sodra die “wolbommers’ genoeg gebrei en gehekel het om die voetbrug te bedek, gaan daar voortgegaan word met ’n groot doelwit vir 2020 se ReWOLusie tydens die KKNK.

“Die mikpunt is om 2020 bome te bedek met hekel- of breiwerk. Dit sal nie net tydens die KKNK daar wees om te besigtig nie, maar ook vir ’n maand of langer na die KKNK om sodoende meer mense na die dorp te lok.”

Miles sê Absa, ’n borg van die KKNK, het reeds wol geskenk vir die 2020-projek.

“Absa is betrokke by die 67 blankets-projek, en alles wat ons hekel en brei, gaan na die tyd in komberse omskep word en na die 67 blankets-projek gaan. Die komberse gaan in ons eie gemeenskap uitgedeel word.”

En dit lyk of die ReWOLusie besig is om te versprei! Miles sê hekelgroepe in Knysna en ander dorpe het reeds aangebied om te help.

“As mense lief is vir Oudtshoorn of enige bande het met ons pragtige dorp, nooi ons hulle uit om ook betrokke te raak by dié ReWOLusie.”

• Enigiemand wat saam wil brei of hekel en kuier, kan Miles kontak by 083 436 1153 of ’n boodskap stuur na die Facebookblad: Oudtshoorn Rewolusie. Mense wat wil leer brei of hekel kan Miles ook kontak. Daar gaan talle geleenthede geskep word vir die wat leer om saam te kuier.

Log in with your credentials

Forgot your details?