Skep geleenthede om met boeke te speel

Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle ver­staan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.

Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle ver­staan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.

Om jong kinders te help om te leer lees en skryf, is ’n ernstige saak, want in ons daaglikse lewens is dit uiters belangrik om geletterd te wees.

Maar ons moet ook onthou dat ons nie aktief vir kinders oor boeke en lees hoef te vertel nie.
Ons moet eerder ons kinders toelaat om oor boeke te leer deur hulle te verken.

Een van die maniere waarop ons dit kan doen, is om vir hulle ­geleenthede te bied om met boeke te speel.
As kinders toegelaat word om met boeke te speel, help dit hulle om geletterd te word.

Hier is van die maniere waarop kinders in verskillende fases van ont­wikkeling met boeke kan “speel”.

• Babas hou daarvan om boeke te verken deur daaraan te vat, dit te streel, te skud en selfs te kou! Hulle is ook goeie luisteraars en nabootsers. Hulle maak dikwels geluide en klap hulle hande om te wys hoe hulle dit geniet wanneer ons vir hulle lees.

Probeer vir babas karton- en lapboeke gee wanneer jy wil hê hulle moet boeke op hulle eie hanteer, byvoorbeeld wanneer jy ’n doek ruil. Hierdie soort boeke is sterk en breek nie maklik nie.

• Ouer babas geniet boeke met flappies, opwipprente en knoppies wat hulle kan druk om geluide te maak. Hulle hou ook daarvan om na dinge op die bladsy te wys of om die bladsye te probeer omblaai.

• Baie kleuters hou daarvan om te maak of hulle hardop lees, en ouer kinders hou dikwels daarvan om te maak of hulle “die onderwyser” is en dan vir “die klas” te lees.

Hulle blaai dikwels deur die bladsye van ’n storieboek en vertel hulle eie storie soos hulle aangaan, of hulle vertel ’n storie wat hulle al dikwels gehoor het – soms selfs met die boek onderstebo! Hulle oefen om te lees en wys vir jou dat hulle verstaan waaroor boeke gaan.

Moedig hulle aan deur seker te maak daar is altyd boeke in hul omgewing wat hulle kan optel en “lees” wanneer hulle wil.

• Jong kinders voer dikwels stories wat hulle ken op, of skep hul eie stories deur bekende storiekarakters te gebruik. Tydens hierdie verbeeldingspel leer kinders van simbole – wanneer hulle ’n stok as ’n feetjie se towerstaffie gebruik, of ’n boks as ’n kar, beteken dit hulle verstaan hoe een ding vir iets anders “kan staan”.

Dit is belangrik vir die ontwikkeling van geletterdheid.

Moedig jou kinders se ­verbeel­ding­spel aan deur vir hulle baie verskillende soorte stories te lees.
Om met boeke te speel gee kinders geleenthede om belangrike geletterdheidslesse te leer, en – die beste van alles – dit is wat kinders natuurlik doen wanneer ons vir hulle lees en boeke in hulle omgewing het waaruit hulle kan kies.

• Hierdie artikel is beskikbaar gestel deur die Nal’ibali-lees-vir-plesier-program. Vir meer wenke oor lees, leesaktiwiteite of stories om saam met jou kinders te geniet in ’n verskeidenheid Suid-Afrikaanse tale, besoek: www. nalibali.org en www.nalibli.mobi, of vind dit op Facebook en Twitter: @nalibaliSA. Nal’ibali ondersteun die Oudtshoorn Lighuis-leesklub. Maak kontak met hulle by https://www.facebook.com/ OudtshoornLighuis/

Treehouse

Log in with your credentials

Forgot your details?