Uitspraak in Preston Titus-moord voortgesit

Uitspraak in die Preston Titus-moordsaak in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn sal vanoggend voortgesit word.

Regter Nolwazi Boqwana het gisteroggend met haar uitspraak van 210 bladsye begin en was aan die einde van die dag byna klaar met die opsomming van die getuienis in die saak.

Die laaste getuienis wat sy sal opsom, is dié van Princess Klip, moeder van Sixabisi Klip, voormalige motorbestuurder van die vermoorde soldaat se vrou, Magdaleen Titus, wat reeds ‘n vonnis van 15 jaar uitdien.

Die regter het in haar breedvoerige opsomming van die getuienis hofgangers weer bewoë gehad toe sy die getuienis van die patoloog wat Preston Titus se nadoodse ondersoek gedoen het, dr Mariette Hurst, uiteengesit het. Volgens Hurst se verslag is Titus veelvuldige steekwonde regoor sy liggaamt toegedien en ook met ‘n stomp voorwerp soos ‘n hamer geslaan. Daar was baie bleod op die vloer asook teen die mure.

Steekwonde aan sy arms dui daarop dat hy hom erg tëegesit het teen sy aanvallers die aand van 1 Desember 2017. 

Die regter het gister ook haar redes gegee waarom sy tydens die verhoor binne ‘n verhoor die bekentenis van Justice Mooi voor ‘n onafhanklike polisiebeampte, Lt kol Eric Jullies, as toelaatbaar bevind het.

Sy het Mooi se verweer dat sy grondwetlike regte nie aan hom voorgehou is nie, verwerp asook dat hy ten onregte deur sers Sheroné Flemmer, beïnvloed is om sy bekentenis af te lê.

Hy het self getuig dat Flemmer die eerste polisiebeampte was wat in die 48 uur na sy inhegtenisneming hom soos ‘n mens laat voel en selfs ‘n koppe koffie aangebied het.

Hy het ook getuig dat hy in elk geval ‘n bekentenis sou aflê al was hy nie met Flemmer in gesprek nie. Hy het dus die bekentenis vryelik afgelê en nie aangerand of gedreig nie.

Die staat vra dat Magdaleen Titus en Justice Mooi op beide klagtes van moord met voorbedagte rade en regsverydeling skuldig bevind moet word.

Staatsaanklaer Christhènus Van der Vijver, het Vrydag toegegee dat daar nie genoeg getuienis voor die hof is om te bewys dat hul mede-beskuldigdes, Natasha Stuurman en Masithembe January betrokke was by die beplanning of pleging van die moord op Preston Titus nie en ook nie op die klagte van regsverydeling skuldig bevind kan word nie.

Titus se regsverteenwoordiger, Henk Carstens, vra dat sy vrygespreek word omdat die staat nie daarin geslaag het om  sy saak bo redelike twyfel te bewys nie.

Hy sê voorts dat dit, volgens Magdaleen, Sixabiso Klip en January was wat die moord op haar man beplan het..

Mooi se regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prinsloo, het gesê dat hy nie met oortuiging kan argumenteer dat Mooi nie betrokke was by die moord nie.

Die hofsaal was gister soos elke ander dag van die verhoor weer van vroeg af stampvol met die moeder en familie van die vermoorde soldaat, wat spesiaal vanaf Worcester gekom het, ook teenwoordig..

Hofverrigtinge begin om tienuur.