Kameras kan dorp veiliger maak

’N NETWERK van sekuriteitskameras in Oudts­hoorn se middedorp en op ander belangrike kwesbare punte om misdaad op Oudtshoorn ’n gevoelige slag toe te dien.

Dit is ’n doelwit van die Oudtshoorn Besig­heids­kamer om die dorp veiliger vir sy inwoners te maak en besighede op die dorp teen misdaad te beskerm.

De Villiers Neethling, besturende direkteur van die Queen’s Mall, sê die sekuriteitskameras wat sowat twee maande gelede by die Queen’s Mall geïnstalleer is, maak reeds ’n wesenlike verskil daar.

Dié kameras en enkele ander wat by besighede op die dorp geïnstalleer is, was reeds instrumenteel om verskeie misdade te op te los en individue betrokke by misdaad en voertuie te identifiseer.

“Dit is belangrik dat sekuriteitskameras ook elders in Oudtshoorn se middedorp en op sekere kwesbare punte op die dorp geplaas word.

“Ek hoop besighede sal by dié visie van die Besigheidskamer inkoop en hul ondersteun om die geld in te samel sodat die sekuriteitskameras so gou moontlik geïnstalleer sal word.”

Jaco Vorster, ondervoorsitter van die Besig­heidskamer, het ook sakemense op die dorp aangemoedig om betrokke te raak

Hy sê om die belangrikste punte op Oudtshoorn te dek, sal volgens berekening R104 000 kos, met net meer as die helfte daarvan wat die Besigheids­kamer reeds by lede ingesamel het.

Bydraes kan inbetaal word in die rekening van die Oudtshoorn Besigheidskamer by Absa: rekeningnommer 4057514616, takkode: 632005 en verwysing (belangrik): Kameras

Deur Liesel le Roux