116 eiendomme deur wind, hael en reën beskadig

Katy Prinsloo (60) van Volmoed wie se huisdak afgewaai is tydens gister se storm.

HY is geraak deur die omstandighede waarin inwoners van Volmoed hulle bevind nadat swaar reën, hael en sterk wind gister groot skade in dié landelike gebied buite Oudtshoorn aangerig het, sê die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Colan Sylvester.

Huise en informele strukture se dakke is afgewaai met sowat 30 mm reën wat binne 15 minute geval het.

Sylvester het die gebied vanoggend besoek. Volgens hom is daar tot nou al 116 eiendomme in Volmoed en in Oudtshoorn self – in die GG-kamp, Black Joint-gebied en Die Kanaal – wat beskadig is deur gister se reën.

Burgemeester Colan Sylvester gesels vanoggend met inwoners van Volmoed wat onder die storm deurgeloop het. Foto’s verskaf


Sylvester sê ‘n munisipale taakspan wat gister saamgestel is om slagoffers by te staan, het sedertdien onverpoos gewerk om slagoffers by te staan. “Ons noodspan het sedert gister boumateraal en komberse uitgedeel aan families wat geraak is.”

Sylvester het aangedui dat die munisipaliteit die provinsiale regering gaan nader vir bystand vir die families.

* Plase tussen Oudtshoorn en Calitzdorp is geraak deur ‘n kraginderbreking nadat ‘n kraglyn in Calitzdorp gister beskadig is. Eskom werk tans aan die herstel daarvan, maar vanweë die omvang daarvan, is dit nog nie duidelik wanneer dit herstel sal wees nie. Twaalf kragpale moet hestel word asook verskeie kragdrade.

Log in with your credentials

Forgot your details?