Vier goue medaljes vir De Krans

DE KRANS WYNKELDER buite Calitzdorp het vier goue medaljes op die jongste Gold Wine Awards losgeslaan! Die wyne wat in hierdie kompetisie in goud getooi is, is De Krans se Free-Run Chenin Blanc 2017, Pinotage Rosé 2017, Touriga Nacional 2016 en A Twist of Fate 2015.

Die Gold Wine Awards is in 2014 gestig met die doel om verbruikers te help om ingeligte wynkeuses te maak en om wyne te bemark wat dit verdien. Wyne word beoordeel deur mense wat kursusse van die Kaapse Wynakademie suksesvol voltooi het en die uitslae word dan statisties gekoppel aan die prys van die wyn om vas te stel watter wyne hul pryse werd is.

Die A Twist of Fate 2015 het ’n interessante geskiedenis en is klaarblyklik ’n glips wat in goud uitgedraai het! Boets Nel, mede-eienaar van De Krans, se pa, Chris, het in 1973 ’n wingerd aangeplant wat hy gedog het shiraz was, maar toe uitgevind dis eintlik tinta barocca. Dit was die eerste Portugese kultivar wat sy pad na Calitzdorp gevind het. In nog ’n kinkel in die storie het Boets en sy broer, Stroebel, gedog hulle plant tinta roriz wat in werklikheid tinta amarella was! Pleks van die win­gerde uittrek, het hulle in hul kristalbal geloer en vandag spog De Krans met ’n “baie gelukkige hu­welik” tussen tinta barocca en tinta amarella (50% van elk) met die gepaste naam A Twist of Fate.

Die Pinotage Rosé 2017 is van Suid-Afrika se inheemse rooidruiftrots gemaak, die Touriga Nacional 2016 is gemaak van druiwe wat op die plaas verbou word en vir 12 maande in Franse eikehoutvate verouder, en die Free-Run Chenin Blanc 2017 word onderskei van tradisionele chenin blancs omdat slegs vryloopsap gebruik is wat ’n wyn tot gevolg het met ’n vars dog volronde smaak.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?