Calitzdorp Kelder vier 90ste

Klokkie Fourie (agter), James O’Kennedy (links), wat van 1975
tot 1990 wynmaker was, en  Danie van der Westhuizen, die huidige wynmaker.
Foto:  Tisha Steyn

Deur Tisha Steyn
DIE Calitzdorp Kelder het verlede Vrydag­aand ’n merkwaardige mylpaal in sy bestaan – sy 90ste bestaans­jaar – gevier! Sowat 60 gaste het dié glansgeleentheid op die stoep van die administratiewe gebou bygewoon.

Die kelders se “geboorte’ was op 17 Februarie 1928 toe die Calitzdorp Vrugte Uitvoerders Koöpe­ratiewe Maatskappy Beperk geregistreer is met die doel om die vrugte in die vallei uit te voer.

Toe die Tweede Wêreldoorlog eg­ter uitvoere bemoeilik het, het die lede van die koöperasie besluit om die statute van die maatskappy so te wysig dat daar ook ’n parskelder bedryf kon word om die hantering van vrugtemos, wyn en brandewyn in te sluit.

Die naam van die maatskappy is verander na die Calitzdorp Vrugte en Wynkelders Koöpe­ratiewe Maat­skap­­py Beperk.

Danie van der Westhuizen, wat sedert Desember 2017 die keldermeester van die Calitzdorp Kelder is, het in ’n oorsig van vanjaar se oes gesê dat die erge droogte die tonnemaat negatief beïnvloed het. Behalwe dat die tonnemaat af is, het die klein korreltjies ook nie gelyk rypgeword nie en is van hulle afgesny om die stokke te spaar.

Van der Westhuizen het egter gesê hy is tevrede met die kwaliteit van die druiwe en die wyn, wat weerspieël word deur die talle toekennings wat die kelder vanjaar ontvang het. Dit sluit die volgende in: SA Jongwynskou (beste rooiwyn in sy klas), Boland Bank Wisseltrofee, Klein Karoo Jongwynskou Reserwe­kam­pioen, Produsentekelder-kampioen, rooi tafelwyn (4 silwer en brons toekennings), Golden Wine Awards (6 goue medaljes), Michaelangelo (2 dubbelgoud en 1 goud), Veritas (’n dubbelgoud, ’n goud, twee silwer en twee brons), Vitis Vinifera (twee goud), Cappa Challenge en onder top tien Cape Ruby Port.

Van der Westhuizen het die boere bedank vir hul vertroue in sy besluite as wynmaker. “Samewerking is van kardinale belang. Ons moet kwaliteit hê om met die res van die wêreld te kan kompeteer.”

James O’Kennedy wat tussen 1975 en 1990 die kelder se wynmaker was, was een van die eregaste.

“Oom James het die grondslag van die kelder gelê en hy het nie draaie geloop met sy uitsprake oor lewe­rings nie,” het Klokkie Fourie, voorsitter van die direksie gesê. “Hy het geglo druiwe is òf reg, òf stookgraad. Dankie vir die fondament wat jy gelê het – destyds as ’n koöperasie, nou ’n maatskappy. Wynmaker Alwyn Bur­ger kon net aangaan met die goeie werk wat jy begin het.”
Burger kon ongelukkig nie die geleentheid bywoon nie.

Volgens Fanie Geyser, direksielid, moet ’n bedryf diversifiseer om te oor­leef. “Wat in 1927 begin het as ’n vrukteverpakkings-koöperasie, het ten spyte van uitdagings gegroei tot die formidabele kelder wat dit van­dag is. Ons het ’n geskiedenis van 90 jaar – daar is min ander kelders wat al so ver gestap het. Weens die droogte lê daar ’n paar moeilike jare voor, maar die kelder sal voortleef!”

Log in with your credentials

Forgot your details?