Twee dood en twee vas na rooftog, wilde jaagtog en oor en weer skietery

Die foto toon die voertuig wat na bewering Vrydagnag in die botsing na ’n rooftog in Vanwyksdorp betrokke was.

Die Hyundai-minibus waarmee rowers verongeluk het terwyl hulle vir die polisie probeer wegjaag het na ’n rooftog in Vanwyksdorp.

TWEE mans wat na bewering betrokke was by  ‘n gewapende rooftog Vrydagmiddag by ‘n supermark in Vanwyksdorp is dood toe ‘n voertuig waarmee hulle gevlug het, omgeslaan het.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie in die Suid-Kaap, het twee gewapende mans vergesel van ‘n derde man omstreeks 16:00 Vrydagmiddag die Twaksak Supermark binnegestap en almal binne die winkel beveel om op die grond te gaan lê. Die mense is vasgebind terwyl ‘n vrou in beheer van die winkel gevra is om die kluis oop te maak.

Die rowers het geld asook ‘n selfoon en skootrekenaar uit die kluis gehaal en met die vrou se Ford Ranger-bakkie van die toneel weggejaag, gevolg deur ‘n Hyundai-minibus.

Hulle is agternagesit deur die Ladismith Polisie wat intussen ook die Laingsburg Polisie, waarheen die voertuie op pad was, se hulp ingeroep het. Die Laingsburg Polisie het die voertuie voorgekeer, maar toe die  verdagtes uit die bakkie klim, het hulle op die polisie begin skiet en in die minibus gespring en daarmee weggejaag.

Die polisie het teruggeskiet en in die heen en weer skietery het die Hyundai-minibus omgeslaan. Twee verdagtes het op die toneel gesterf terwyl twee ander in hegtenis geneem is en na die Allan Blythe Hospitaal in Ladismith geneem en onder polisiebewaking behandel is.

Die mans, 27 en 30 jaar oud, is tans in die Oudtshoorn Hospitaal onder polisiebewaking.

Volgens Pojie ondersoek die polisie sake van besigheidsroof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en poging tot moord. Die mans sal binnekort in die hof verskyn.

Vanwyksdorp is sowat 46 km van Ladismith in die Klein Karoo geleë.

(Berig deur Liesel le Roux. Die berig is aangepas van die oorspronklike aangesien meer inligting intussen ontvang is.)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?