Waterverlies van 2 miljoen liter per dag

Stukkende pyp by Raubenheimerdam lei tot…

Water lek uit ’n stukkende pyp by die Raubenheimerdam, Oudtshoorn se wateropgaardam. Foto verskaf

Water lek uit ’n stukkende pyp by die Raubenheimerdam, Oudtshoorn se wateropgaardam. Foto verskaf

Deur Garnett Wicomb
DIE vervanging van ’n  stukkende pyp wat daartoe lei dat sowat twee miljoen liter water daagliks uit Oudtshoorn se opgaardam, die Raubenheimerdam, verlore gaan, moet dringend gedoen word.

So is gister eenparig tydens ’n spesiale raadsvergadering besluit.

Volgens die direkteur tegniese dienste, Chris Koch, sal die koste sowat R3,5 miljoen beloop en moet die werk so spoedig moontlik gedoen word terwyl die watervlak van die Raubenheimerdam laag is. Die dam is tans as gevolg van die droogte slegs 36,9% vol.

“Daar sal nie gewerk kan word indien die dam vol is nie en daarom moet die werk voor die reënseisoen afgehandel word,” het Koch gesê.

Volgens die agenda van die spesiale raads­vergadering is ’n lek in die pyp op 6 April ontdek.

Daar is gevind dat die hoofuitlaatpyplyn onder die wal van die Raubenheimerdam deur die betonomhulsel lek teen ’n tempo van meer as 30 liter per sekonde.

’n Konsultant en kontrakteur is gevra om die skade – wat 160 meter onder die damwal en die watervlak is – te ondersoek sodat Oudtshoorn se enigste waterbron dringend herstel kan word.

Daar moet uiters versigtig te werk gegaan word om nie die tonnel onder die watervlak te beskadig nie omdat krake daar tot lewensverlies en die verlies van al die water in die dam kan lei.

Die konsultant en kontrakteur se verslag is op 7 Mei ontvang waarna die raadsvergadering vir die goedkeuring van die herstelwerk belê is.

Henry Tyatya, ANC-raadslid, het gesê hy keur die vervanging van die pyp goed, maar dat dit nie toegelaat kan word dat ’n konsultant voorskryf watter kon­trak­teur die raad moet aanstel nie.

“Dit is baie geld en ons moet self besluit wie die werk moet doen,” het hy gesê.

Volgens raadslid George Kersop (DA), voorsitter van die finanskomitee, is water ’n groot bron van inkomste vir die raad en is twee miljoen liter wat per dag verlore gaan, ’n groot verlies.

Die burgemeester, Colan Sylvester, het hiermee saamgestem en bygevoeg dat verdere uitstel die dorp in ’n waterkrisis kan laat beland.

‘Luidens die agenda moet uiters versigtig te werk gegaan word … omdat krake tot lewensverlies en die verlies van al die water in die dam kan lei.’

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?