Skokgranate nadat inwoners polisie twee keer aanval

Die Oudtshoorn Polisie het die afgelope naweek twee keer skokgranate en rubberkoeëls afgevuur nadat hulle deur inwoners aangeval is.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die polisie Saterdagaand twee skokgranate gegooi nadat inwoners hulle met klippe bestook het tydens ‘n polisieoptrede by ‘n woning in Januariestraat. Visser sê drank word by die huis verkoop. ‘n Polisievoertuig is tydens die klipgooiery beskadig.

Die polisie is Sondagoggend ook onder klippe gesteek toe hulle ‘n man in 13de Laan vir die besit van dagga en mandrax in hegtenis geneem het. “In ‘n oogwink het daar ‘n groep van meer as 300 mense gevorm en klippe na die polisie begin gooi en selfs met grawe, pikstele en pangas op ons afgestorm,” sê Visser.

Die polisie het hier ook skokgranate en rubberkoeëls afgevuur onm hulle in staat te stel om die toneel veilig te verlaat.

Een polisiebeampte en twee polisievoertuie is tydens die voorval beskadig. Die polisie ondersoek sake van openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging en aanranding.

Die man wat hulle in hegtenis geneem het, is steeds in aanhouding en aangekla vir die besit van dwelms.

Oudtshoorn se stasiebevelvoerder, brig Levona Januarie, het haar teleurstelling uitgespreek oor die voorvalle. “Die publiek kla by ons oor die onwettige smokkelhuise en misbruik van dwelms op straat, maar sodra ons optree, word dit met teenstand begroet en word ons lede aangeval. Ons gaan beslis nie ophou met die optredes nie en nie toelaat dat die gemeenskap ons intimideer om nie ons werk te doen nie.”

Hoewel niemand nog in verband met die geweld teen die polisie in hegtenis geneem is nie, het die polisie gewaarsku dat ingehtenisnames sal volg sodra die ondersoeke na die voorvalle afgehandel is.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?