Foto nie onnadenkend geplaas nie

redakteursbrief

Die Hoorn se ontstellende voorbladfoto verlede week van beeste wat in ’n vragmotor vasgesit het – nadat die vragmotor met 37 beeste daarin omgeslaan het – het buitengewoon baie reaksie uitgelok op ons Facebook-blad.

Party mense was ontsteld oor die gru­saamheid van die ongeluk wat treffend deur die foto geïllustreer is, en ander was ontsteld omdat Die Hoorn die foto op die voorblad geplaas het en hulle nie daarna wou kyk nie.

Eerstens wil ons die versekering gee dat die foto nie onnadenkend geplaas is nie. Die ongelukstoneel was inderdaad erg ontstellend, baie erger as wat een foto kon uitbeeld.

Die foto het egter tog iets weergegee van die trauma en lyding wat die beeste ervaar het. En of enigeen nou daarvan wil weet of nie en ’n foto wil sien of nie, die ongeluk is baie nuuswaardig en ons het daaroor verslag gedoen.

Ons hoop dat die ontstellende foto op Die Hoorn se voorblad mense sal laat kennis neem daarvan dat so ’n ongeluk of botsing kan gebeur as hulle roekeloos of nalatig of selfs net nie versigtig genoeg bestuur nie.

Dit is ook tyd dat die betrokke ­owerhede weer kennis neem van hoe gevaarlik daardie draai is. Voertuie het al dikwels die pad daar byster ge­raak of omgeslaan of in die watervoor langs die pad beland, en dit is hoog tyd dat iets gedoen word om die draai minder gevaarlik te maak of mense met opvallende padtekens behoorlik te waarsku teen die draai.

Dié keer is ’n klomp beeste dood. Volgende keer kan dit mense wees.

Dr Wessel Vermeulen, wat gereeld die pad ry, het verlede week aan Die Hoorn gesê hy weet van 30 ongelukke en drie sterftes wat al daar plaasgevind het.

Daar was egter nie net kritiek oor die plasing van die foto nie. Baie lesers het Die Hoorn bedank vir goeie joernalistiek en die feit dat ons mense se aandag gevestig het op ’n gevaarlike draai in die dorp waar die een ongeluk ná die ander plaas­vind.

Die debat oor grusame voorbladfoto’s in ­koerante wat mense ontstel, is nie ’n nuwe een nie. Die vraag wat die redakteur van ’n koerant hom- of haar­self in tye van ontstellende ge­beure afvra, is tot watter mate die erns en aard van gebeure met lesers gedeel moet word.

Iemand het voorgestel dat Die Hoorn ’n meer subtiele foto moes ge­plaas het. Ongelukkig was daar niks subtiel aan die ongeluk nie. Inteendeel. Teen 14:00 die middag is nog gespook om die laaste bees uit die trok te bevry en het daar reuse plasse bloed oral op die grond gelê.

Partykeer is dit nodig dat ons kennis neem van die soms nare werklikheid waarin ons leef sodat opgetree kan word om dit beter te maak.

– Schalk le Roux

Log in with your credentials

Forgot your details?