Pyp binne maand herstel

Versigtigheid nodig, want lewensverlies, ineenstorting van dam as tonnel sou breek

Pyp herstel

‘Daar sal uiters versigtig te werk gegaan moet word sodat die tonnel self nie beskadig sal word nie. Skade aan die tonnel kan veroorsaak dat massas water in die tonnel invloei en sal verseker lei tot
lewensverlies en die verlies van alle water in die dam.’

Deur Liesel le Roux
’N STUKKENDE pyp wat water van die Raubenheimerdam reg onder die watervlak van die dam vervoer, gaan nie meer vervang word nie. Verdere ondersoeke deur ingenieurs na die skade aan dié massiewe pyp het die die afgelope week aangetoon dat die pyp herstel kan word.

Dit sal ’n groot besparing wees op die aanvanklike R3,5miljoen wat vervanging van die pyp sou kos.

Oorsaak van skade gevind
Tydens ondersoeke is gevind dat die skade aan die pyp ver­oor­saak is deur die geweld en spoed waarmee ’n hidrouliese klep in die pypleiding tans toemaak.

Dit veroorsaak ’n skok­golf (ook bekend as waterslag) in die pyp.

Die klep sal tydens herstelwerk vervang word terwyl ’n waterslagbreker ook geïnstalleer sal word om te voorkom dat sulke skade weer voorkom.

Herstel geniet prioriteit-aandag
Chris Koch, direkteur tegniese diens­­­te by die munisipaliteit, het Dins­dag aan Die Hoorn gesê die herstel van die pyp geniet tans prioriteit-aandag.

In die lig van die gevaar dat die ton­nel – waarbinne die pyp onder die dam loop – beskadig kan word en breek tydens herstelwerk, kan egter nie oorhaastig te werk gegaan word nie.

“Daar sal uiters versigtig te werk gegaan moet word sodat die tonnel self nie beskadig sal word nie. Skade aan die tonnel kan veroorsaak dat massas water in die tonnel invloei en sal verseker lei tot lewensverlies en die verlies van alle water in die dam.”

Die herstelwerk sal binne die volgende maand geskied.

Volgens Koch is die stukkende plek aan die pyp sowat 190 meter vanaf die bek van die tonnel onder die watervlak en sowat 30 meter van­af die inlaat van die pyp in die toring.

Die oorspronklike voorstel van raad­gewende ingenieurs was dat die hele pyp vervang moes word. Dit het egter die afgelope week ook duidelik geword dat so ’n voorstel verskeie probleme sal meebring.

Daar is onder meer tydens toetse gevind die pyp is ’n asbes­pyp wat in beton gegiet en met staal versterk is. Daar sal dus deur staal en beton gebreek moet word om die ou pyp te verwyder en ’n nuwe te koppel – wat lank kan duur en die moontlikheid van skade in die tonnel verhoog.

Take voordat herstel begin
Voordat die herstelwerk aan die pyp self begin, moet die volgende eers gedoen word:

• ’n Ou pypleiding wat baie jare laas in bedryf was en wat water des­tyds vanaf die Melvilledam na die dorp vervoer het, moes nagegaan en foutiewe isoleer- en lugkleppe herstel of vervang word sodat dié water die dorp se reservoirs kan voed terwyl aan die Raubenheimerdam gewerk word. Dié Melville-pyplyn sluit net onderkant die Raubenheimerdam by die huidige pyplyn aan. Die Mel­ville­dam se water het die laaste aantal jare met die rivier langs direk in die Raubenheimerdam gevloei.

• Alle reservoirs van die dorp moet vol wees voordat herstelwerk begin. Die Melvilledam het genoeg water om die dorp ’n maand lank van water te voorsien en die reservoirs in die dorp het genoeg stoorvolume om drie dae se verbruik te verseker.

Koch sê die herstelwerk sal deur ’n kontrakteur gedoen word met veilig-heidsplanne wat in plek sal wees.

Onwaar dat maand gewag is
Koch het ook gereageer op bewe­rings op Oudtshoorn dat dit ’n maand geduur het voordat hy die raad ingelig het oor die stukkende pyp.

“Dit is onwaar,” sê Koch.

Hy sê hy het inteendeel die burgemeesterskomitee dadelik ingelig na­dat ’n lek in die pyp op 6 April ontdek is.

Volgens Koch is daar tussen Janua­rie en Maart vanjaar water losgelaat vir die landbou, soos wetlik van die munisipaliteit verwag word. ’n Oor­eenkoms ten opsigte van waterlosla­ting aan die landbou is met die bou van die dam rondom 1972 tussen die munisipaliteit en boere gesluit.

“Toe die loslatings verby is, het ons op 6 April agtergekom daar loop steeds water uit die dam. Ons het dadelik ondersoek ingestel en die stukkende plek in ’n pyp  onder die watervlak gevind.”

Raadgewende ingenieurs wat kun­diges op die gebied is, is onmiddellik deur die munisipaliteit ontbied om die skade te evalueer.

Water wat lek nie verlore
Vrese dat die water wat tans uit die Raubenheimerdam lek,  verlore gaan, is gelukkig ongegrond, sê Koch. Die water wat tans teen sowat 23 liter per sekonde lek, loop in die Grobbelaarsrivier waar dit beskikbaar is vir die landbou.

Volgens Koch is die hoe­veelheid water wat uitlek byna gelykstaande aan die water wat volgens die oor­een­koms per kanaal om die dam gevoer moet word vir die landbouers, maar wat nou nie meer per kanaal omgelei word nie maar uitlek en rivier af gaan na die landbouers.

Nog meer as ses maande se water
Met die huidige watervlak van 35,3% in die Raubenheimerdam en 100% in die Melvilledam, is daar  teen huidige verbruik nog ses maande se watervoorraad oor, sê Johan Uys, be­stuurder grootmaatwater. Volgens Uys sluit dié berekening nie water in wat steeds in die damme invloei nie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?