Protesoptrede kan verkeer na en van Oudtshoorn tot stilstand bring

Mosselbaai ingang(1)MOTORRYERS wat Maandag tussen Oudtshoorn en sy buurdorpe wil ry, sal dit nie tussen 11:30 en 13:00 kan doen nie omdat ‘n protesoptrede teen plaasmoorde dan by Oudtshoorn se ingange gaan plaasvind. “Ons wil vreedsaam protesteer en geen chaos veroorsaak nie,” sê Deon Bosman, sakeman van Oudtshoorn wat die protesoptrede geïnisieer het.

‘n Groot getal voertuie, ook trekkers en vragmotors, word by die protesoptrede verwag en gaan na verwagting verkeer na en van die dorp tot stilstand bring. Bosman het versoek dat almal wat met voertuie aan die protesoptrede gaan deelneem om 11:30 net buite Oudtshoorn op die Calitzdorp-pad moet vergader. Van hier sal die groep in drie verdeel om die ingang vanaf Calitzdorp/Mosselbaai, die ingang vanaf De Rust/Dysselsdorp en die ingang vanaf George te versper.

“Noodvoertuie sal deurgelaat word en ‘n vorm van alternatiewe roetes sal beskikbaar wees,” het Bosman gesê.

Bosman sê toestemming vir die protesoptrede is Vrydag van die polisie en verkeersowerhede vir die protesoptrede verkry.

Hy sê mense sonder voertuie kan by die ingang die naaste aan hul woonplekke vergader. “Mense kan te voet kom en as hulle plakkate wil vertoon, is dit reg, maar die dra van wapens in enige vorm is verbode.” (Foto van die ingang vanaf Calitzdorp/Mosselbaai en berig: Liesel le Roux)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?