Preston Titus-moord: Tweede verdagte verskyn in hof

hof-images-3-300x289

Die tweede verdagte wat vir die moord op die Oudtshoorn-soldaat Preston Titus (47) aangekeer is, het vanoggend (Donderdag) vlugtig in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn nadat hy eergister in Port Elizabeth in hegtenis geneem is.

Landdros Roelf Konstabel het die saak teen Justice Mooi (30) eers tot 28 Desember uitgestel nadat Mooi gevra het om vir regshulp aansoek te doen. Nadat ‘n regshulpprokureur later op rekord gekom het, is die saak soos in die geval van die eerste verdagte, Sixabiso Klip, tot Maandag 18 Desember uitgestel.

Baie minder mense as met Klip se verskyning Woensdag het Donderdag se hofverrigtinge bygewoon.

Volgens kapt Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is verdere inhegtenisnemings nie uitgesluit nie en sal ‘n identikit van nog ‘n verdagte so gou moontlik uitgereik word.

Leon Campher, een van die organiseerders van Woensdag se plakkaatbetoging en oorhandiging van ‘n petisie aan die hooflanddros, het na gister se hofverrigtinge gesê dat hulle weer Maandag in groot getalle by die hof sal wees. Hy het sy dank teenoor die polisie se ondersoekspan uitgespreek vir hul puik werk tot dusver om Titus se moordenaars vas te trek. (Berig deur Garnett Wicomb)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?