Oudste dorp in Klein Karoo vier 200ste jaar met Erfenisfees


Foto bo: Die oostelike gedeelte van Zoar, wat ook as Amalienstein bekend staan. Die foto is geneem vanaf die koppie in die middel van die dorp waarop die waterreservoir geleë is. Die foto onder is van die westelike gedeelte van die dorp en is van dieselfde koppie geneem. Links is die Evangeliese Lutherse Kerk in Zoar wat in 1853 gebou is en ’n nasionale gedenkwaardigheid is en die toergids en storieverteller  Alistair Reizenberg. Regs is Phillipus Antonie, onderburgemeester van Kannaland, by die VGK Kerk waar hy in 1963 gedoop is. Hy het op Zoar skoolgegaan en ook van 1987 tot 2009 daar skoolgehou. Foto’s: Schalk le Roux
Foto bo: Die oostelike gedeelte van Zoar, wat ook as Amalienstein bekend staan. Die foto is geneem vanaf die koppie in die middel van die dorp waarop die waterreservoir geleë is. Die foto onder is van die westelike gedeelte van die dorp en is van dieselfde koppie geneem. Links is die Evangeliese Lutherse Kerk in Zoar wat in 1853 gebou is en ’n nasionale gedenkwaardigheid is en die toergids en storieverteller Alistair Reizenberg. Regs is Phillipus Antonie, onderburgemeester van Kannaland, by die VGK Kerk waar hy in 1963 gedoop is. Hy het op Zoar skoolgegaan en ook van 1987 tot 2009 daar skoolgehou. Foto’s: Schalk le Roux

Deur Schalk le Roux
ZOAR, die oudste dorp van die Klein Karoo, vier sy 200ste verjaardag van vandag tot Sondag (21 tot 24 September) met ’n verskeidenheid feesverrigtinge.

Dié uitgespreide dorpie tussen Calitzdorp en Ladismith word omring deur die Swartberge aan die noordekant en die Langeberge en is aan die R62, ’n bekende toerismeroete, geleë. Die Seweweekspoortpiek, wat op 2 325 meter nie net die hoogste piek van die Swartberge is nie maar ook die hoogste bergpiek in die Wes-Kaap, is noord-noordoos van Zoar. Die piek is vernoem na Seweweekspoort, ’n skilderagtige natuurlike deurgang deur die Swartberge en ’n wêreldbekende toerisme-attraksie. Dit is ook deel van Unesco se Wêrelderfenisgebied.

Zoar, wat digby 5 000 inwoners het, val onder die Kannalandse munisipaliteit.

Alistair Reizenberg, ’n toergids, tradisionele storieverteller oor die Klein Karoo en Wes-Kaap en ’n boorling van Zoar, vertel die dorpie was voorheen bekend as Doornkraal wat geag is as die tradisionele tuiste van die Attaquastam wat deel vorm van die Korana- of Quenanasie, ook bekend as die Khoi-mense. Die Attaqua se stamgebied het oor die hele Klein Karoo gestrek. Groepies van die stam het gereeld met hul diere deur Zoar getrek. Daar was dus altyd mense in die gebied.
Die SA Sendinggenootskap het in 1817 na die gebied gekom om die inheemse bevolking van die dorpie geestelik te bearbei. Hulle het toe ’n kerk gebou en die gebied tot Zoar herdoop.

Die naam Zoar kom van die Bybel af en beteken Plek van Toevlug. Zoar is dus as ’n voormalige sendingstasie vanjaar 200 jaar oud.

Die oorspronklike kerk wat gebou is, bestaan nie meer nie, maar daar is in 1895 ’n nuwe kerk gebou wat nou nog in gebruik is. Die naam van die kerk het intussen verander na die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK). Die kerk is langs die RP Botha Skool wat destyds deur die kerk begin is. Die skool gaan van graad 7 tot 9.
Volgens Reizenberg was die “ou mense” nie gretig om die nuwe naam te aanvaar nie, maar het hulle dit gedoen omdat hulle besef het dat hul wêreld besig was om te verander. “Daar is nog ’n bietjie van die ou kultuur in Zoar behou met ’n stamhoof en stamraad om die erfenis van die Attaqua aan die lewe te hou,” vertel hy.

In 1853 het die Berlynse Sendinggenootskap ’n tweede kerk, die Evangeliese Lutherse Kerk, ge­bou in die gedeelte van Zoar wat ook as Amalienstein bekend staan. Barones Amalie von Stein het die geld vir die koop van die grond geskenk en die sendingstasie is na haar vernoem. Daar is ’n laerskool by die kerk wat as LB Primêr bekend staan en van graad R tot graad 6 gaan. Amalienstein huisves vandag ook ’n groot melkplaas.

Die Anglikaanse Kerk, wat later gebou is, het ook ’n laerskool, EK Primêr (ook van gr R – gr 6).

Reizenberg sê Zoar is nie net die Klein Karoo se oudste dorp nie, maar ook een van sy armstes. “Die meeste inwoners is seisoenale plaasarbeiders wat normaalweg tussen 3 en 5 maande per jaar werk het. Die gemeenskap begin nou na toerisme kyk om toekomstige werkskepping te bevorder. Zoar leen homself ideaal tot toeriste wat ’n eko-kulturele ervaring wil geniet. B&B’s, selfsorgeenhede en ’n backpackers is reeds beskikbaar vir besoekers as ’n basis om Zoar en die omliggende gebied te verken. Bergfietsryers hou van die ruwe paadjies in die omgewing met sy baie natuurskatte, soos drie biome van vetplante, sub-tropiese bos en fynbos, die Seweweekspoort en die Swartberge.”

Reizenberg, wat ’n passie vir Zoar en die omgewing het, sê sy toere daarheen vind groot byval by plaaslike en buitelandse toeriste.

• PROGRAM VIR ZOAR KULTUUR- EN ERFENISFEES
ZOAR se Kultuur- en Erfenisfees skop Donderdag om 19:00 af met ’n openingseremonie in die RP Bothaskoolsaal met spesiaal genooide gaste. Daar sal ook boekbekendstellings wees.
Die res van die program is:
Vrydag, 22 September
09:00 – 12:00 Kleuterskolebyeenkoms op die Zoar Sportterein met allerlei buksie-aktiwiteite.
10:00: Stalletjies open.
13:00 – 14:30 Fietsresies begin by Barn 62. Pretstap begin in Proteapark.
17:00 Kuiertuin gooi deure oop (tot 24:00).
19:00 Kroning van senior en junior Mnr en Mej Erfenisfees begin gevolg deur Funtime Disco.
Saterdag, 23 September
09:00 – 23:55 Kuiertuin.
10:00 Hoof feesverrigtinge – Massa-optog bege-lei deur blaasorkes, donkiekarre, sierwaens ens vanaf Proteapark tot by Zoar Sportterrein.
11:00 Potjiekoskompetisie skop ook af.
12:00 Vertoning deur trompoppies op rugby-veld. St Moses-optrede.
12:30 Uitstalling van plaaslike en ander talent.
15:00 Rugbywedstryde begin.
17:00 – 18:00 Rubber Johnny tree op
22:00 tot laat Funtime Disco
Sondag, 24 September
09:30 Gesamentlik kerkdiens in VGK.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?