Ongemagtigde uitgawes by munisipaliteit onder die loep

Deur Garnett Wicomb
HY sal nie toelaat dat amptenare of werknemers van die munisipaliteit wat hulle skuldig maak aan  ongemagtigde, buitengewone, vrugtelose en of spandabele uitgawes daarmee wegkom nie.

So het die munisipale bestuurder, Allen Paulse, gister tydens ’n spesiale raadsvergadering van die Oudtshoorn Munisipaliteit gesê tydens die bespreking van ’n verslag oor sulke uitgawes.

Die verslag is vir ondersoek na die munisipale openbare rekeningskomitee verwys.

Terugvoering hieroor word teen einde Mei verwag.

Paulse het ongelukkige ANC- en Icosa-raads­lede die versekering gegee dat die regte prosedure gevolg sal word.

“Ons sê nie die mense wie se name op die lys verskyn, is skuldig nie, maar indien wel, sal dissiplinêre optrede beslis kom.”

Volgens Paulse is daar steeds mense wat munisipale wette verontagsaam.

“Ons kan nie aangaan soos in die verlede nie en sal optree teen die skuldiges. Dit maak nie saak wie jy is nie,” het Paulse gewaarsku.

Van die ongemagtigde uitgawes is onder andere aankope van verskeie items en gereedskap vir ’n burgemeesters-gholfdag, die Kersliedere en Kers­ligfunksie in Desember verlede jaar, die huur van ’n teermasjien, voertuigherstelwerk, insleepdiens­te, aankoop van buitebande,  dieselaankope en ook beradingsdienste.

Vlancio Donson (Icosa) het versoek dat ’n verslag van die eerste burgemeester-maskerbal ook teen einde Mei aan die raad voorgelê moet word.

Volgens ANC-raadslid Henry Tyatya is daar se­nior munisipale amptenare “wat dinge toelaat”.

“Daar moet van elke sent wat uitgegee word, rekenskap gegee word,” het hy gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?