Man en vrou in hegtenis geneem vir Titus se moord

Preston Titus. Foto: Facebook

Preston Titus. Foto: Facebook


DIE Oudtshoorn Polisie het goeie vordering gemaak met sy ondersoek na die moord op Preston Titus (47), stafsersant by die Oudtshoorn Infanterieskool wie se lyk verlede Vrydagaand teen middernag in sy kamer met verskeie steekwonde gevind is, sê kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaapse Polisie.

Volgens Pojie het die polisie se ondersoekspan gisteraand omstreeks 20:30 ‘n 23-jarige man en ‘n 37-jarige vrou vir ondervraging in hegtenis geneem. Die twee is nog nie aangekla nie. Pojie sê gerugte dat Titus se eggenoot, Magdaleen Titus, in hegtenis geneem is, is nie waar nie.

Pojie sê die ondersoek is in ‘n sensitiewe stadium.

“Die aanvanklike ondersoek toon dat die lyk ontdek is nadat sy dogter Vrydagaand huis toe gekom het nadat sy die aand met vriende uit was. By haar terugkeer kon sy nie haar pa se aandag getrek kry om vir haar die deur oop te maak nie. Selfs nadat sy sy selfoon gebel het, het hy nie gereageer nie. Uiteindelik het haar ma die deur oopgemaak en hulle het toe haar pa se liggaam in ‘n slaapkamer ontdek. Daar was in daardie stadium geen bewyse van gedwonge toegang nie en die diefstal van twee tablette en ‘n goue polshorlosie is aangemeld.”

Die bevelvoerder van die Eden Cluster, maj genl Oswald Reddy, het sy tevredenheid uitgespreek met die toewyding en onvermoeide werk van die Oudtshoorn-speurders om die moord op te los.

“Daar moet nog baie gedoen word, maar ons sal ons mandaat nakom om diegene verantwoordelik te hou wat betrokke was by hierdie moord,” het hy gesê.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?