So lyk planne vir paaie om Oudtshoorn nou

Paaie van Oudtshoorn na De Rust, George en Grotte

Deur Liesel le Roux
GOEIE nuus en dan nuus wat ’n bie­tjie hoop bring. Dit is die nuutste inligting oor drie belangrike roetes buite Oudtshoorn.

Oudtshoorn-De Rust-pad
Bou- en opgraderingswerk aan die R341 tussen Oudtshoorn en De Rust sal hopelik in Mei hervat met ’n nuwe kontrakteursfirma.

“Ons is hoopvol dat die huidige impasse opgelos is en ons as alles volgens plan verloop weer in Mei ’n kontrakteursfima op die terrein sal hê,” sê Byron la Hoe, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke.

NMC, die kontrakteur wat in Maart 2017 met die bouwerk aan die pad begin het, is einde Januarie onder voorlopige likwidasie geplaas nadat ’n poging tot sakeredding nie geslaag het nie.

Bou- en opgraderingswerk aan die pad het op 4 Desember tot stilstand geknars toe die kontrakteursfirma, NMC, sy personeel onttrek het. Die firma is kort daarna onder sakeredding geplaas.

Bouwerk aan die pad was verlede jaar in omstredenheid gehul met die Departement van Vervoer wat sowat 1,8 km van die bouwerk afgekeur en later die kontrak met NMC beëindig het. NMC het egter ’n tydelike hofbevel verkry wat die departement verbied om die kontrak te beëindig. Verskeie subkontrakteurs het ook verlede jaar beweer dat hulle nie deur NMC betaal is nie.

Oudtshoorn-George-pad
Daar is ook ’n bietjie goeie nuus oor die besige en soms gevaarlike N12 tussen Oudtshoorn en George. La Hoe sê die herseëling van ’n ge­deelte van die pad is geskeduleer vir einde 2018.

Kango Grotte-pad
Die opgradering van die R328 tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte verloop voorspoedig met Frik Eloff, die projekbestuurder van iMvula Roads and Civils, wat gereeld die publiek op hoogte hou van die vordering. Eloff het padgebruikers bedank vir hul samewerking en hulle versoek om baie versigtig en stadig op die pad te bestuur en veral die volgende in gedagte te hou:

• Opgraderingswerk vind tans by die ingange na plase en gastehuise plaas.
• Pas volgafstande aan omdat daar los klippe op die pad mag wees.
• Daar is tans geen strepe op die pad nie.
• 4 km van die pad vanaf die Cango Wildlife Ranch is tot einde Februarie gedeeltelik gesluit.
• 2 km van die pad tussen die Le Rouxrivier-brug en die Grotte is tot middel Februarie gedeeltelik gesluit vir werk aan die padskouer.
• ’n Gedeeltelike padsluiting kan ook tussen Schoemanshoek en die Grotte voorkom.
• Padgebruikers kan verwag dat hul rit tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte 30 minute langer as gewoonlik sal duur.

Log in with your credentials

Forgot your details?