Louis de Wet oorlede

Louis de Wet  Foto: Ilse Jordan

Louis de Wet Foto: Ilse Jordan

Deur Schalk le Roux
LOUIS DE WET, die eienaar van Klein Karoo Toyota op Oudtshoorn, is vroeg Sondagoggend in die ouderdom van 73 in die siekeboeg van Millenniumpark Aftreeoord op Oudts-­ hoorn weens nierversaking oorlede.

Hy het ’n lang tyd probleme met sy niere gehad en het die laaste drie jaar van sy lewe gereeld dialises ontvang. Sy toestand het verlede jaar verswak en is hy in November in die siekeboeg opgeneem waar hy tot met sy dood versorg is.

De Wet sou op 12 Julie 2016 ’n nieroorplanting ontvang het. Sy sus­ter, Engela, sou een van haar niere aan hom geskenk het. Hy het egter ’n week voor die operasie ’n bakteriële infeksie opgedoen. Dit het sy gestel sodanig verswak dat besluit is die oorplanting sal ’n te groot risiko wees.

• De Wet is op 19 Maart 1943 op Hopetown gebore waar sy pa, ook Louis, in die bankwese was.

Nadat sy ouers na Oudtshoorn verhuis het, was De Wet in die Laerskool Wesbank en later in Paarl Gimnasium op skool.
De Wet se suster, Engela, met wie hy ’n baie hegte verhouding gehad het, sê hy het al van kleins af ’n passie vir motors gehad.

Sy vertel hy het op 9-jarige ouderdom homself geleer motor bestuur!

Ná skool het De Wet omstreeks 1970 in die bank op George begin werk voordat hy kort daarna tot die motorbedryf toegetree het.

Nie lank daarna nie, in 1974, het hy en ’n vennoot Klein Karoo Toyota begin. Onder sy bestuur het dié on­der­neming gegroei tot die grootste motorhandelaarskap op Oudtshoorn. Klein Karoo Toyota is in 1996 landwyd as Toyota se Handelaar van die Jaar aangewys. Die handelaarskap het ook verlede jaar die Absa Goue Vennoot-toekenning die 26ste keer ontvang.

De Wet se seun, Anru, wat in sy pa se voetspore gevolg het as handelaarshoof van Klein Karoo Toyota, sê sy pa was nie net ’n dinamiese persoon nie, maar sal ook onthou word vir sy vriendelikheid, respek vir ander mense en sy wye vriendekring.

“In sy hart was hy ook ’n avonturier. Hy het in die diepsee gehengel, gereeld gejag en vanweë sy liefde vir die bos het hy wyd in Suider-Afrika getoer,” vertel hy.

Volgens Anru het hy ná sy pa se dood ’n boodskap ontvang van Philne Saayman wat van sy pa se dialises gedoen het. Dié boodskap som in ’n groot mate sy pa as mens op. Sy het onder meer geskryf: “Ek het hom as pasiënt leer ken en wat ’n voorreg was dit vir my. Vir ure het ek langs sy bed gesit terwyl sy dialise besig was. Hy het vertel van sy toere, visvang en skaapkopetes.

Hy was nie net ’n pasiënt vir my nie, maar iemand wat diep in my hart gekruip het.

“Hy het tot een keer uit die dia­li­se­bed Toyota gebel om my kar te kom haal vir ’n was. Julle pa was ’n spesiale mens en ’n vegter.”

Benewens sy seuns, Anru en Louis, en sy dogter, Jo-Anne, word De Wet ook oorleef deur sy vrou, Heinzetta, en die se twee dogters, Jacorene en Danielle.

• ’n Roudiens vir De Wet word môre (Vrydag 23 Februarie) 15:00 in die NG Wes-kerk op die hoek van Buitekant- en Tuinstraat gehou.

Log in with your credentials

Forgot your details?