Kraanwater weer veilig verklaar

Woensdag se toetsuitslae toon E. coli-telling van nul by alle reservoirs

Oudtshoorn se drinkwater is gister weer veilig verklaar nadat toetse op die water gister getoon het dat daar geen teken van E. coli meer in die water was nie.  Foto: Liesel le Roux

Oudtshoorn se drinkwater is gister weer veilig verklaar nadat toetse op die water gister getoon het dat daar geen teken van E. coli meer in die water was nie. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN se drinkwater is nou weer veilig om te drink.

Dit was die boodskap gister vanaf die Oudtshoorn Munisipaliteit nadat die nuutste watertoetse getoon het dat die dorp se water geen E. coli-telling meer het nie.

“Ons het pas telefonies met Oute­niqua Laboratoriumdienste gepraat en hulle het bevestig dat daar geen E. coli is in die watermonsters wat Maandagoggend geneem is nie,” het Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, gesê.

“Die water is nou veilig vir menslike gebruik. Die uitslae sal vandag skriftelik bevestig word.”

Dit volg nadat die Oudtshoorn Munisipaliteit Maandagoggend inwo­ners van die dorp versoek het om alle water wat hulle gebruik te kook nadat ’n watertoets ’n hoë E. coli-telling in een van die dorp se vyf reservoirs getoon het.

Die E.coli-telling by dié een reservoir was 360 cfu/100 ml, terwyl dit by die ander vier reservoirs nul was.

Inwoners is Maandag selfs aange­raai om die water te kook waarmee hulle tande borsel.

Volgens Johan Uys, bestuurder grootmaatwater by die munisipaliteit, dui die feit dat E.coli net by een reservoir gevind is, aan dat daar nie probleme was by Oudtshoorn se drinkwaterbron, die Raubenheimerdam, nie, maar dat die probleem dalk eerder by die betrokke reservoir of die neem van die watertoets self gelê het.

Uys sê Oudtshoorn se drinkwater word soos wetgewing vereis, elke tweede week bakteriologies getoets.

Allen Paulse, munisipale bestuurder, het Maandag gesê dat die munisipaliteit dadelik nadat die toets­- uitslae ontvang is, begin het om die oorsaak van die hoë E. coli-telling te probeer opspoor.

Hoewel aanvanklik vermoed is dat ’n klein diertjie soos ’n muis of duif dalk in in die betrokke reservoir kon beland het, is geen oop plek by die reservoir gevind wat groot genoeg was dat so iets kon gebeur het nie.

Die munisipaliteit het terselfdertyd begin om die proses te volg met die neem van watermonsters vanuit die reservoir om te bepaal of daar nie ’n fout ingesluip het wat die hoë lesing tot gevolg gehad het nie.

Volgens Uys is heelwat chloor Maandagmiddag by die water in die betrokke reservoir gevoeg terwyl chlorinering onderkant die Raubenheimerdam ook verhoog is om die watergehalte te verbeter.

Dinsdagoggend vroeg is nog drie watermonsters geneem en na die la­boratorium gestuur om bakteriologies ontleed te word.
Intussen het meer as een algemene praktisyn van Oudtshoorn die week aan Die Hoorn gesê dat hulle twyfel of die groot voorkoms van maagpro­bleme wat sedert verlede week op die dorp voorkom aan die water op Oudts­hoorn verbind kan word.

Baie fiets­ryers wat verlede week op Oudts­hoorn aan die SA Padfietskampioenskap deelgeneem het, het byvoor­beeld gekla van maagprobleme. Volgens die dokters is ’n maag­virus vermoedelik eerder vir die maag­probleme verantwoordelik.

’n Dokter by ’n laboratorium op George sê hulle kon geen bakte­riële groei vind in stoelgange van siek pasiënte wat hulle getoets het nie.

• Die water van die ander dor­pe in die Groter Oudtshoorn Munisipa­liteit, De Rust en Dysselsdorp, is nie deur die waterprobleem geraak nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?