Kook steeds dié troebel kraanwater

Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het vandeesweek inwoners en besoekers aan Oudts­hoorn aangeraai om steeds die kraanwater van die dorp te kook voor­dat dit gedrink word.

Inwoners van Oudtshoorn worstel sedert middel Februarie met troebel water nadat massas modderwater na stortreën op 14 Fe­bruarie in die Raubenheimerdam, die dorp se drinkwaterdam in die Swartberge, ingevloei het.

Omdat die plantegroei in die opvangs­gebied van die dam nog nie genoegsaam herstel het na ’n vernietigende brand in Desember 2016 nie, is daar tans niks wat die vloei van water teen die berghellings kan vertraag en filtreer nie.

Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê hoe­wel die laaste paar weke se watermonster­uitslae toon dat daar geen e.coli in Oudts­- hoorn se drinkwater is nie, is die troebelheid steeds te hoog en moet die drinkwater steeds gekook word.

“Die rede waarom die water gekook moet word, is dat die hoë troebelheid chlorinering oneffektief maak en die veiligheid van die drinkwater dan nie gewaarborg kan word nie.

“Die gekookte water is veilig om te drink, maar dit gaan steeds nie skoner lyk nie.”

Mangqwengqwe sê die troebelheid kan nie verwyder word nie omdat Oudtshoorn nie oor ’n watersuiweringsaanleg beskik nie.
“Die onsuiwerhede, wat die troebelheid veroorsaak, sal mettertyd uitsak en skoon water tot gevolg hê.

• Mangqwengqwe het ook namens die munisipaliteit ’n beroep op inwoners en feesgangers gedoen om water spaarsaam te gebruik.

“Die vlak van die Raubenheimerdam staan tans op 46% en saam met die ekstra 5% wat in die Melvilledam geberg word, is die gekombineerde vlak dus 51%.”

Log in with your credentials

Forgot your details?