KKNK gaan dorp mooier maak

Kunsinstallasies bly agter ná fees

Deur Liesel le Roux
VANJAAR se KKNK gaan Oudts­hoorn mooier maak met vyf permanente en funksionele kunsinstal­la­sies wat na die fees op die dorp gaan agterbly!

Die Maakit Mooi-projek is die resultaat van ’n vennootskap tussen die KKNK, Absa as borg en die munisipaliteit, met die vyf permanente kunsinstallasies wat die dorp se status as ’n Suid-Afrikaanse “kuns­tuiste” wil vier.

Die kunsinstallasies sal ook funksioneel wees, wat beteken dat dit deur mense gebruik kan word.

Die Groter Oudtshoorn-raad het verlede week by ’n spesiale raadsvergadering vyf plekke op die dorp goedgekeur waar die kunswerke opgerig sal word.

Die plekke is gekies omdat baie mense daar verbybeweeg.

Vier van die kunsinstallasies is deur Absa L’Atelier-kunstenaars on­der die leiding van dr Paul Bayliss, Absa se kuns- en museumkurator, ontwerp en geskoei op die tema van 2018 se L’Atelier-veldtog: “Gee kuns lewe.”

Dit sluit die volgende in:
• ’n Sonhorlosie uit klip van die omgewing wat by die Burgersentrum opgerig sal word. ’n Gedig van ’n plaaslike digter sal daarop verskyn.

• ’n Selfoonhokkie op die hoek van St John- en Baron van Reedestraat, waar mense met groter privaatheid oor hul selfone kan gesels.

• ’n Wipplank waarop nie net twee nie, maar groepe mense sal kan sit – aan die agterkant van die De Jager Sportterrein.

• “Volstruiseier-sitplekke” – ’n installasie met openbare sitplekke wat soos volstruiseiers sal lyk in die omgewing van die

Queen’s Mall, spesifiek omdat daar ’n behoefte is vir meer openbare sitplek in die dorp.

Die vyfde kunswerk is ’n kleurvolle gemeenskapskuns-projek op die loopvlak buite die CJ Langenhoven Gedenkbiblioteek.

Dit sal gedoen word deur plaaslike kunsstudente terwyl feesgangers sal kan help om die ontwerp te voltooi deur verfkuns.

Dié kunsinstallasie sal na die voltooiing verseël word om dit te beskerm.

• Tydens die KKNK sal Bayliss daagliks begeleide kunstoere aanbied en dié installasieterreine besoek om feesgangers ’n blik te gee op die kreatiewe prosesse agter die ontwikkeling en skepping daarvan.

Die begeleide kunstoere sluit talle verrassings in, onder meer egte Karoo-happies, gratis WiFi-toegang en koue water, asook intieme gesprekke met die bekende Suid-Afrikaanse akteur, vervaardiger en aanbieder Hannes van Wyk.
Die kunstoere begin daagliks om 08:45 met die Absa Rooiplein as vertrekpunt. Dit duur tot 10:30.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?