DIE Polisie se direktoraat vir die ondersoek van prioriteitsmisdade, die Valke, se ondersoek van die afgelope jare op Oudtshoorn is afgehandel en inhegtenisnemings word binnekort verwag.
Die aankondiging is vanoggend by ‘n spesiale raadvergadering van die Groter Oudtshoorn-raad deur die burgemeester, Colan Sylvester, gedoen.
Volgens die munisipale bestuurder, Allen Paulse, is dit al inligting wat die munisipaliteit tans mag bekend maak.
Die Valke het in 2016 met die ondersoek na finansiële wanbestuur, bedrog en korrupsie by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit begin. Dié ondersoek het gespruit uit ’n gedetailleerde verslag wat deur die provinsiale forensiese dienste saamgestel is nadat die munisipaliteit in Julie 2015 onder administrasie geplaas is.
Ná die forensiese ondersoek is ’n verslag in Maart 2016 aan die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, oorhandig. Die verslag het agt dik lêers beslaan.
In die verslag is 132 oortredings geïdentifiseer, hoofsaaklik van die munisipale finansiële bestuurswet, munisipale beleid en ander wetgewing. Twee sake van korrupsie en agt sake van bedrog is ook geïdentifiseer. Hieronder tel onder meer die vervalsing van dokumente.
Die Valke se ondersoek het egter die afgelope jare voortgegaan met nuwe inligting wat bygekom het. (Berig deur Liesel le Roux)