Hier is die feite oor hondesiekte en watter honde in gevaar is

Net inenting hou honde veilig

Slym uit die neus is een van die simptome van hondesiekte. Foto: Lemaryn Barendse

Slym uit die neus is een van die simptome van hondesiekte. Foto: Lemaryn Barendse

Hondesiekte (distemper) is ’n eeue-oue en algemene virussiekte wat ’n hoë sterftesyfer in honde veroorsaak.

Drs Glen Carlisle, ’n veearts van Oudtshoorn, en Karlien Botha van die Staatsveeartskantoor op Oudtshoorn het die volgende inligting oor hondesiekte aan Die Hoorn beskikbaar gestel:
Hondesiekte kom meestal voor in jong honde tussen drie en ses maande ouderdom, maar dit kan ook in ouer diere voorkom.
Hondesiekte word veroorsaak deur die Para-myxo-virus, ’n hoogs aansteeklike virus, wat deur die lug versprei word. Dit word gewoonlik versprei deur direkte kontak met besmette diere.

Dit word maklik doodgemaak as goeie higiëne toegepas word, wat die gereelde skoonmaak van die honde se slaap- en woonareas met betroubare skoonmaakmiddels insluit.

Katte word glad nie aangetas nie en dra ook nie hierdie siekte oor nie.

Kliniese simptome: 7 tot 14 dae na blootstelling sien ’n mens verhoogde koors en lusteloosheid by ’n hond. Die oë en neus dra dik slym, die honde hoes, gooi op en kry maagwerkings. Verder ontwikkel die honde breinletsels en onwillekeurige spiersametrekkings van die kopspiere, wat bekend staan as “chewing gum fits”. Daarna gaan hulle gou dood.

Behandeling: Tans is daar géén behandeling vir hierdie virussiekte nie en gaan die meeste honde ongelukkig dood.
Die siekte kan voorkom word deur elke klein hondjie op 6, 12 en 16 weke in te ent en dit daarna jaarliks te herhaal. Die entstof is baie effektief en gewoonlik is honde veilig wat op dié datums entstof ontvang het.

Log in with your credentials

Forgot your details?