Heerlike musiekkonsert wil geld insamel vir Oudtshoorn se diere

boydogmusicDeur Liesel le Roux
’N GROEP diereliefhebbers van Oudtshoorn het ’n heerlike musiekkonsert vir Saterdag, 2 September, gereël as deel van nog ’n inisiatief deur hulle om geld in te samel vir dierewelsyn in die Groter Oudtshoorn.

Kaartjies na die Musiek vir Diere-konsert kos net R50 en sluit ’n verskeidenheid musiekitems in – onder meer viool-, orrel-, klavier-, saksofoon- en sangitems.

Dié groep diereliefhebbers het reeds verskeie projekte sedert verlede jaar geloods. Hieronder tel die Tuine vir Diere waartydens inwoners verskeie pragtige tuine in die dorp kon besoek en die uitloting van ’n enkelbedkwilt wat deur Wilma Smit, ’n lid van die Outeniqua Kwiltersgilde gemaak is, asook ’n skildery deur die kunstenaar Glendine.

“Oudtshoorniete word gevra om die konsert te ondersteun en so ook Oudtshoorn se diere te help. Dit gaan ’n wonderlike middag van musiek wees,” het een van die organiseerders gesê.

Die fondse wat ingesamel word met die Musiek vir Diere-konsert sal gaan vir die sterilisasie van diere.
Die konsert begin om 15:00 en vind in die NG Moederkerk op die hoek van Kerk- en Hoogstraat plaas. Kaartjies is te koop by Bottega in Baron van Reedestraat (oorkant die Spur).

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?