Geen rybewyse meer vir swaarvoertuie op Oudtshoorn

Clipart truck reg vir fb

Deur Liesel le Roux
OMDAT Oudtshoorn se toetsbaan vir die verkryging van rybewyse nie meer voldoen aan die riglyne van die nasionale Departement van Vervoer nie, kan toetse vir swaarvoertuig-rybewyse nie meer op Oudtshoorn afgeneem word nie.

Toetse vir die verkryging van rybewyse vir motors (kode 8) gaan egter soos tevore voort.

Dit maak dinge moeilik vir inwoners van die dorp en omgewing, sê Willem Burger, eienaar van die Suid-Kaap Bestuurskool.
Volgens Burger moet hy nou met mense na Swellendam of elders langs die Tuinroete ry vir beide hul leerlingrybewyse en rybewyse vir kode 10-voertuie, omdat dit nie meer op Oudtshoorn afgelê mag word nie.

Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê toetse vir rybewyse vir swaarvoertuie sal eers weer op Oudts­hoorn afgelê mag word indien die toetsbaan opgegradeer of ’n nuwe toetsbaan gebou word.

“Dié strenger kontrolemaatreëls mag daartoe aanleiding gee dat die aktiwiteite van bestuur­skole drasties afneem,” het hy gesê.
Dit wil voorkom of so ’n opgradering of verskuiwing van die toetsbaan as gevolg van die groot koste daaraan verbonde nie iets is wat binnekort op Oudtshoorn sal realiseer nie.

Die raad het in Oktober verlede jaar by ’n raadsvergadering opsies bespreek oor die moontlike verskuiwing van die toetsbaan, en ’n voorstel aanvaar dat die tegniese departement geskikte moontlikhede verder moet ondersoek en die departement omgewingsake hierby moet betrek.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?