‘Ek dog my man droom’

• Bakkie gesteel in Oewersig, Oudtshoorn

Die Isuzubakkie van Lodewyk en Nadia Jonck wat uit hul erf in Oewersig gesteel is.  Foto: Angelique Erasmus

Die Isuzubakkie van Lodewyk en Nadia Jonck wat uit hul erf in Oewersig gesteel is. Foto: Angelique Erasmus

Regs is die toneel waar die dief in ’n kragpaal vasgejaag het.  Foto verskaf

Regs is die toneel waar die dief in ’n kragpaal vasgejaag het. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
“EK dog my man droom,” sê Nadia Jonck oor die oomblik toe haar man vir haar gesê het hul bakkie is uit hul erf in Oewersig, Oudtshoorn gesteel.

Nadia en Lodewyk Jonck se grys Isuzu-bakkie  is Dinsdag­oggend omstreeks 4:00 gesteel, maar kort daarna gevind toe die dief met die bakkie in ’n lamppaal vasgejaag het.

“Ek het ’n bakkie gehoor luier, en toe die bakkie wegtrek, het ek besef dit klink soos my bakkie,” vertel Lodewyk oor die diefstal.
Hy sê hy het opgespring en gesien sy bakkie is weg.

“Ek het Nadia geroep en sy het solank die polisie gebel terwyl ek die ander voertuig se sleutel gegryp en poli­siekantoor toe gery het en daarna in die strate na my bakkie begin soek het.

“Teen 4:10 het ek vanaf Langenhovenweg in Rademeyerstraat in­gedraai en op die hoek van Jan van Riebeekweg en Rademeyerstraat my bakkie teen’n lamppaal sien staan.”

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie,  is die bakkie enkele minute na die diefstal deur ’n patrollievoertuig opgemerk.

“Die verdagte het hierop probeer wegjaag en op die hoek van Rademeyer- en Jan van Riebeeckweg teen ’n kragpaal gebots.

“Die verdagte het te voet gevlug en is omstreeks 06:00 by die rivier in die omgewing van Rade­meyerstraat in hegtenis geneem.”

Honde is na verneem word, gebruik om die verdagte op te spoor.

Volgens Michaels is die verdagte ’n 30-jarige man.

“Ons wil die Polisie bedank vir hulle flink optrede en hulp; hulle het beslis goeie werk gedoen,” sê Lodewyk.

Volgens Nadia is dit vir haar vreemd dat hulle boerboel glad nie eers geblaf het ten tye van die diefstal nie. Sy sê sy het die hond dadelik in die huis laat inkom toe hulle uitvind die bakkie is ge­steel.

• Statistiek op Oudtshoorn en in die omgewing toon dat daar tradisioneel in Mei, Junie en Julie ’n toename in voertuigdiefstal is. Die polisie het ’n beroep gedoen op inwoners om seker te maak voer­tuie is snags agter slot en grendel.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?