Drie mans digby Klaarstroom vasgetrek met diefstaltoerusting

Die wit Isuzu-bakkie van Gerhard Coetzee van De Rust wat Sondagnag uit sy erf gesteel is. Foto verskaf

Die wit Isuzu-bakkie van Gerhard Coetzee van De Rust wat verlede week uit sy erf gesteel is. Foto verskaf

Deur Marlene Malan
DRIE inwoners van Umtata in die Oos-Kaap – moontlik lede van ’n misdaadsindikaat wat plattelandse dorpe teiken – het die afgelope week in die Prins Albert Landdroshof verskyn op ’n aanklag van die besit van inbraak- en voertuigdiefstaltoerus­ting.

Hulle is verlede Woensdag (28 Junie) in die vroeë oggendure deur die Prins Albert Polisie en die Klaar­stroom Polisie net buite Klaarstroom in ’n gehuurde motor vasgetrap.

In ’n gesamentlike operasie van die twee spanne is die drie insittendes in hegtenis geneem by die Prins Albert/Beaufort-Wes/Klaarstroom-aan­sluiting net voor Meiringspoort.

Die huurmotormaatskappy Avis het ’n klag van bedrog bygevoeg om­dat die mans die motor waarmee hulle gery het, se gerekenariseerde toere­teller ontkoppel het om die kilome­ter­lesing te fnuik.

Dié inhegtenisneming was drie dae nadat die wit Isuzu 2.5-bakkie van Gerhard Coetzee, ’n sakeman van De Rust, op 25 Junie uit sy erf in De Rust gesteel is.
Volgens Die Hoorn se inligting word die mans nie tans met dié diefstal verbind nie. Coetzee se bakkie is steeds soek.

Sers Nico April, kommunikasie­hoof van die Prins Albert Polisie, en sy kollega, ao Hannes van der Westhuizen, het gister aan Die Hoorn gesê die inhegtenisname van die drie mans het gevolg ná ’n patrollierit van die Prins Albert Polisie in die vallei, of Die Gang, toe ’n verdagte motor opgemerk is.

Sers Sammy van der Ross, sers David Barends, konst Louis Greeff en konst Marshall Kayser was verlede Woensdag in die vroeë og­gend­ure op dié pad om uit te kyk vir moontlike koperkabeldiewe in dié gebied.

“Koperkabeldiefstal hier is ’n groot probleem,” het April gesê.

“Op die kruin van die Kredouw-pas het ’n motor van Klaarstroom se kant af in die rigting van Prins Albert by hulle verbygery. Toe die polisie­beamptes net daarna weer dié dorp binnery, het die motor vinnig uit die dorp gery gekom, terug in die rigting van Klaarstroom. Die polisie het die motor se vinnige kuiertjie in Prins Albert om drieuur in die nag verdag gevind, omgedraai en die kar agternagesit.”

Klaarstroom se polisie is intussen ingelig en het die jaende motor by die kruising ingewag.

By nadere ondersoek het die polisie gevorderde inbraak- en motordiefstaltoerusting, sowel as handskoene, in die kar gevind en die drie insittendes in hegtenis geneem.

“Alle denkbare hulpmiddels wat vir inbrake en diefstal gebruik word, is in die kar gevind,” volgens Van der Westhuizen.

Volgens April is vasgestel dat die motor by Avis by die Oos-Londen Lughawe gehuur is en dat die drie mans in Umtata woon. Hulle het Maandag in die hof verskyn, maar die saak is tot volgende Woensdag (12 Julie) uitgestel omdat die aangeklaagdes tolkdienste versoek het.

Volgens April en Van der Westhuizen vermoed die polisie dat die mans deel is van ’n misdaadsindikaat wat in die hele Oos- en Wes-Kaap werk.

“Verdere ondersoeke volg na moontlike motordiefstalle en inbrake in dié provinsies,” het April gesê.

Volgens Van der Westhuizen is inwoners van plattelandse dorpe té gerus oor veiligheid. “Hulle moenie snags hulle voertuie buite die erf in die straat parkeer nie. Hulle moet dit agter geslote hekke hou.”

April sê op Prins Albert het die Polisie al motors in die nag gevind met die sleutels nog in die aansitter.

• In nog ’n verwikkeling het boere in Die Gang onder die leiding van dr Ian Punt, eienaar van die Kredouw-olyflandgoed, onlangs die Prins Albertvallei-plaaswag gestig. Gereelde patrollies word gery en die lede is almal per radio met mekaar in verbinding.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?