De Rust-pad wag nog 2 maande

Dié brug naby die afdraai na Dysselsdorp wat wyer gemaak moet word as deel van die padbouwerk. Die foto is verlede jaar geneem.

Dié brug naby die afdraai na Dysselsdorp wat wyer gemaak moet word as deel van die padbouwerk. Die foto is verlede jaar geneem.

Deur Liesel le Roux
DIE bou- en opgraderingswerk aan die R341 tussen Oudtshoorn en De Rust sal waarskynlik eers oor sowat twee maande hervat word aangesien die aanstelling van ’n nuwe kontrakteur langer duur as wat voorsien is.

Die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke is tans in die proses om ’n nuwe kontrakteur aan te stel nadat die vorige kontrakteur, NMC, einde Januarie onder voorlopige likwi-dasie geplaas is nadat ’n poging tot sakeredding nie geslaag het nie.

Bou- en opgraderingswerk aan die pad het op 4 Desember tot stilstand geknars toe NMC sy personeel onttrek het. NMC het in Maart 2017 met die bouwerk aan die pad begin.

Intussen word verkeer op die onvoltooide pad met stopry-punte beheer en gaan die padoppervlak al verder agteruit; alles tot groot frustrasie van padgebruikers.

Volgens Byron la Hoe, woordvoerder van die Departement van Vervoer en Openbare Werke, is tenders van nuwe kontrakteurs ontvang en ’n aanbeveling aan die bodkomitee gemaak. “Ons hoop om die aanstelling vandeesweek te maak waarna dit deur Tesourie bekragtig moet word. ’n Formele aankondiging sal waarskynlik binne twee weke gedoen word,” het hy Maandag gesê.

Hierna moet die Departement van Arbeid eers ’n werkspermit vir die nuwe kontrakteur uitreik, ’n proses wat tot vyf we­ke kan duur. Eers dan sal die kon­- trakteur kan begin werk. Daar is aanvanklik gehoop dat bouwerk dalk al in Mei her­vat sou kon word.

• Die R213 miljoen-padbouprojek behels die opgradering en herseëling van dele van die pad terwyl die brug naby die afdraaipad na Dysseldorp ook wyer gemaak sal word.

Bouwerk aan die pad was verlede jaar in omstredenheid gehul toe die Departement van Vervoer sowat 1,8 km van die bouwerk afgekeur het. Verskeie subkontrakteurs het ook beweer hulle sukkel om hul betaling van die kontrakteur te ontvang.

Log in with your credentials

Forgot your details?