Bly asb weg van plekke op Swartbergpas waar gewerk word

9-Swartbergpas
Deur Liesel le Roux
’N ERNSTIGE beroep is die week op mense gedoen om nie die deel van die Swartbergpas wat tans herstel word, te gebruik nie.
Herstelwerk aan dié historiese pas het onlangs begin nadat ’n wolkbreuk en flitsvloed in April groot dele van die pad aan die Prins Albert-kant beskadig het.
Volgens Stephan Schoeman, produksie-ingenieur van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke, mag geen voertuie of voetgangers tans die pas tussen die Gam­kas­kloof-afdraai en die Scholtzkloof-afdraai gebruik nie. Dié gedeelte van die pas is onveilig vir menslike gebruik.
Die Swartbergpas Aksiegroep wat bestaan uit ’n groep besorgde inwoners, het Vrydag ook ’n verklaring uitgereik waarin gevra word dat “geen voertuie, motorfietse, fietse, stappers of enige ongemagtigde persone” die deel van die pas waaraan tans gewerk word, gebruik nie.
Die verklaring lui: “Die Swartbergpas is tans ’n gevaarlike konstruksieterrein en die projek­span kan geen verantwoordelikheid aanvaar vir beserings van oortreders of skade aan voertuie nie.”
Die Aksiegroep is ook bekommerd dat die ongemagtigde gebruik van die pas tot ’n vertra­ging in die herstel daarvan kan lei, wat op sy beurt weer ’n uiters nadelige uitwerking op Prins Albert en toerisme na die dorp kan hê.
Die Swartbergpas is inderdaad “die gans wat die goue eiers lê” vir Prins Albert en ’n belang­rike toegangspad tot dié Karoodorp.
Die pas is egter ’n belangrike toeristeaantreklikheid wat ook al die dorpe in die streek be­voordeel. Dit is in ’n nasionale erfenisgebied en ’n historiese en omgewingsensitiewe gebied geleë en wêreldwyd bekend.
Volgens die verklaring gaan die Prins Albert Polisie patrollies op die pas oor naweke en na-ure verskerp om te help met die beheer van mense wat dit ongemagtig wil betree.
• Inwoners van die Karoo en Klein Karoo word versoek om dié boodskap te versprei – ook aan besoekers aan die gebied – en so ’n bydrae te lewer dat die pas so gou moontlik herstel kan word.
• Let op: Die pas is steeds oop vanaf die Oudts­hoorn-kant tot by die Gamkaskloof-afdraai en die Hel (Gamkaskloof) kan so via Oudtshoorn bereik word.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?