Bakkie uit erf gesteel

Die wit Isuzu-bakkie van Gerhard Coetzee van De Rust wat Sondagnag uit sy erf gesteel is. Foto verskaf

Die wit Isuzu-bakkie van Gerhard Coetzee van De Rust wat Sondagnag uit sy erf gesteel is. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
DIE voertuigdiewe van die Klein Karoo het weer die naweek toegeslaan en ’n wit Isuzu 2.5-bakkie in De Rust uit die erf van die bakkie se eienaar gesteel.

Voertuigdiefstal vind dikwels snags in die kouer wintermaande in dié streek plaas en slotte, hekke en veiligheidsmeganismes hou nie die voertuig­diewe uit nie. Bakkies uit die 1990’s is van dié diewe se gewildste prooi.

Verlede jaar is drie bakkies in Mei en Junie op Oudtshoorn gesteel waar dit agter geslote hekke in hul eienaars se erwe gestaan het.

Die slagoffer Sondagnag was ’n bekende sakeman van die OK op De Rust, Gerhard Coetzee. Sy wit Isuzu-bakkie, ’n 1993-model, was boonop met ’n rathefboomslot gesluit.

Coetzee sê dit is vir hom ’n baie groot slag, veral omdat hy onlangs heelwat gespandeer het aan die bakkie.

“Dit is my slaghuisbakkie en ek kon nog baie jare lank daarmee gery het,” sê hy.
Coetzee sê die bakkie is gesteel sonder dat iemand enigiets gehoor het. Hy sê sy grootste hoop is dat sy bakkie iewers staan en gevind sal word.

“Die brandstoftenk was leeg en hulle sou Oudts­hoorn toe moes gery het om dit vol te maak. Boonop gee die dieselpomp probleme en sou hulle hopelik nie te ver met die bakkie kon kom nie.”

Die bakkie se registrasienommer is CG 15175. Kontak die De Rust Polisie by 044 241 2050 of kapt Fourie by 082 778 6669 met enige inligting.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?