ArtKaroo groet die uitstalruimte in die Prince Vintcent Gebou

ArtKaroo

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE bekende ArtKaroo Kunsgalery in die Prince Vintcent Gebou in Oudtshoorn open vanaand die laaste keer ’n kunsuitstalling in dié gebou nadat die eienaar, Janet Dixom, besluit het om die fisieke galery te sluit.

“Daar gaan nie meer ’n fisieke galery wees nie want ons wil ons aandag toespits daarop om ’n kragtige webbladsy te skep waar ons met ’n internasionale gehoor kan kommunikeer en kunswerke aan hulle kan bekend stel,” het Dixon gister in ’n verklaring gesê.

“Dit is nie die einde van die pad vir ArtKaroo nie.

“Dit is die begin van ’n nuwe hoofstuk.”

Die uitstalling wat vanaand by ArtKaroo open, se tema is Krans & Kloof, met die Karooberge die inspirasie daarvoor.

Die uitstalling sal oop wees vir die duur van Klein Karoo Klassique.

Wilhelm Vintcent, kurator van ArtKaroo, verduidelik dat die landskap van Seweweekspoort, die Outeniqua-berge en Meiringspoort vrae en verwondering diep in ons psige ontlok, en dat die galery graag met werke van onder meer Janet Dixon, Thjis Nel, Hein Botha, Marinda Combrinck asook vele ander hierdie gevoel wil verken as deel van hul afskeid van die galery in die Prince Vintcent gebou. “Hierdie uitstalling is baie spesiaal vir ons. Ons gaan die kunstenaars se interpretasie – in ’n tradisionele en digitale medium – van hierdie verwondering tentoonstel.

“As jy deur ons omgewing beweeg en regtig oplet na hoe die natuur om ons lyk, is dit toweragtig.”
Volgens Vintcent sal ArtKaroo in die toekoms voortdurende “pop-up shows” en gesprekke aanbied, en beoog hulle ook om te reis en nie soos tans op een plek gevestig te wees nie.

“Die galery self gaan nie tot niet nie.

“Ons bou voortaan aan die galery in ’n digitale omge­wing. Ons sal net nie meer ’n vaste adres hê nie.”

Die opening van Krans & Kloof sal deur ’n klassieke vertoning van Petronel Baard en Boesman Keiser voor­afgegaan word – om aan te pas by die klassieke tema van Klein Karoo Klassique, waarna Hannes Visser gedigte sal voorlees.

Daar sal ook vegetariese sop en brood teen R25 beskikbaar wees by Die Boer & Vark Restaurant langs ArtKaroo.

Die aand begin om 18:30 en almal is welkom by dié laaste openingsaand.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?