‘Nie in belang van geregtigheid’ dat Maggie borg kry

Mense wys vanoggend hulle blydskap buite die hof nadat Maggie Titus se aansoek om borgtog nie toegestaan is nie.

Mense wys vanoggend hulle blydskap buite die hof nadat Maggie Titus se aansoek om borgtog nie toegestaan is nie.

Deur Garnett Wicomb
Borgtog is vanoggend in die Oudtshoorn Landdroshof geweier aan Magdaleen (Maggie) Titus (41), eggenote van die vermoorde soldaat, Preston Titus (48), wat van sy moord aangekla word.

Landdros Errol Thomas, het in sy uitspraak wat ‘n uur en ‘n half geduur het, gesê dat dit nie in belang van geregtigheid is dat Titus se vryheid voorkeur moet geniet gesien in die lig van ‘n wrede moord wat gepleeg is nie. Haar oorlede man het 27 mes- en kapwonde opgedoen.

Hy het in ag geneem dat sy ‘n eerste oortreder is en nie enige ander hangende sake teen haar het nie, maar bevind dat geen buitengewone omstandighede voor die hof gebring is om borgtog toe te staan nie.

“Die applikant word aangekla van ‘n Bylae 6-misdryf waarvoor lewenslange gevangenistraf die minimum vonnis is,”
het die landdros gesê.

Die hof het bevind dat die staat ‘n sterk prima facie-saak teen die applikant het.

Ook is bevind dat die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, ‘n betroubare getuie was en nie leuenagtig soos wat die verdediging aangevoer het nie.

“Die ondersoekbeampte het nie opsetlik leuens vertel nie. Enkele afwykings in sy getuienis moet eerder as foutief gesien word as wat dit leuens was. Hy het eienskappe geopenbaar van ‘n getuie wat geglo kan word,” het die landdros gesê.

Volgens hom berus Le Roux se getuienis grootliks op hoorsê-getuienis wat wel in ‘n borgaansoek soos hierdie toelaatbaar is.

Die verweer van Titus se regsverteenwoordiger, Joshua Greeff, dat die ondersoekbeampte nie alle relevante feite voor die hof gebring het nie, is ook verwerp. “Ek kan met alle respek nie met die verdediging saamstem nie. Daar is nog baie ondersoekwerk wat gedoen moet word.”

Die landdros het ook bevind dat Titus se motorbestuurder, Sixabeso Klip, wat reeds skuldig gepleit het en tot 15 jaar gevangenistraf gevonnis is, geen rede gehad het om sy werkgewer valslik te beskuldig nie.

“Dit is totaal onwaarskynlik dat hy dieselfde leuen ses weke uitmekaar, vanaf sy eerste verklaring op 6 Desember 2017 tot sy tweede verklaring op 19 Januarie 2018, sou vertel.”

Die landdros het daarna verwys dat daar voor die moord geen probleme tussen die twee was nie.

“Die beskuldigde word in albei verklarings as die outeur van die beplande moord uitgewys.”

Hy het gesê Klip se vonnis van 15 jaar is ook nie ‘n soort afslag wat hy vir homself beding het soos deur die verdediging beweer is nie. “Vyftien jaar is nie ‘n ligte vonnis nie. Klip het die vermeende moordenaars na die moordhuis gery, buite gewag en hulle weer weggeneem.”

Volgens die landdros is dit verstommend dat Titus na die dood van haar man nooit in verbinding was met sy moeder, Murial, in Worecster nie terwyl sy meer as een keer in die dorp opgemerk is. “Dit is eienaardig, baie eienaardig,” het die landdros opgemerk.

Hy het ook Titus se versoek dat sy haar politieke pligte as munisipale raadslid en lid van die ANC provinsiale komitee moet nakom, verwerp omdat sy volgens die provinsiale sekretaris van haar party tydelik geskors is.

Hy ook haar versoek dat sy na haar twee mnderjarige dogters wil omsien, verwerp omdat sy met haar inhegtenisneming op 19 Januarie op Barrydale aan ‘n polisiekaptein gesê het dat hulle by famlilie bly en “in veilige hande” is.

Die hof het ook kennis geneem dat die hele aangeleentheid ongekende belangstelling geniet en ‘n petisie met meer as 3 500 handtekeninge teen borgtog by die hof ingedien is. ‘n Petisie met veel minder stemme, sowat 2 000, vir borgtog is wel ook ontvang.

Die staatsaanklaer, Lisa Cremer, wat ingestaan het vir adv Michelle Weyers, het die hof versoek om die saak teen Titus en haar medebeskuldigdes, Justice Mooi en Natasha Stuurman, uit te stel tot 9 April omdat die ondersoek nog nie voltooi is nie. Daar word na nog ‘n verdagte gesoek en gewag vir forensiese verslae en inbetaalstrokies van geld wat Titus glo by Pep Stores inbetaal het om die reisgeld van die twee huurmoordenaars te dek.

• Leon Campher, organiseerder van die plakkaatbetogings buite die hofgebou, het na die hofverrigtinge sy dank teenoor die ondersoekspan vir hul goeie werk tot dusver uitgespreek. Hy het ook die publiek vir hul ondersteuning en die Polisie vir die manier hoe hulle voor die hof teenoor die publiek optree, bedank. (Berig bygewerk vanaf oospronklike berig)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?