Magdaleen Titus waarskynlik Maandag in hof

Magdaleen Titus kom Vrydag by die Oudtshoorn Polisiekantoor aan nadat sy in Barrydale in hegtenis geneem en teruggebring is na Oudtshoorn. Foto: Schalk le Roux

Magdaleen Titus kom Vrydag by die Oudtshoorn Polisiekantoor aan nadat sy in Barrydale in hegtenis geneem en teruggebring is na Oudtshoorn. Foto: Schalk le Roux


Die eggenoot van die vermoorde Preston Titus, Magdaleen Titus, en nog ’n vrou van Oudtshoorn, Natasha Stuurman, sal na verwagting môre (Maandag, 22 Januarie) in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn in verband met die moord op Preston Titus.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaapse Polisie, sal die twee vroue – wat Vrydag in hegtenis geneem is nadat lasbriewe vir hul inhegtenisneming uitgereik is – aangekla word vir die moord op Titus.

Stuurman is Vrydag by haar huis in Oudtshoorn in hegtenis geneem terwyl Magdaleen Titus in Barrydale in hegtenis geneem en deur die ondersoekspan na Oudtshoorn teruggeneem is. Lasbriewe vir hul inhegtnisname asook vir die inhegtenisname van ’n verdagte bekend as MJ is Vrydag uitgereik nadat hulle geïmpliseer is in ’n pleitooreenkoms wat nog ’n beskuldigde, Sixabiso Klip, met die staat bereik het.

Klip het skuldig gepleit op klagtes van moord en die besit van gevaarlike wapens (twee messe en ’n hamer) en is Vrydag 15 jaar gevangenisstraf vir moord en twee jaar vir die besit van die gevaarlike wapens gevonnis. Die vonnisse sal gesamentlik uitgedien word.

Die senior staatsaanklaer, adv John Ryneveld van die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV), het die ooreenkoms met Klip bereik.

Die Wes-Kaapse bestuur van die DOV het die ondersoekspan geprys vir hul werk.
Saam met Juchec Mooi, wie se aansoek vir borg môre (Maandag) voortgesit sal word in die hof, is vier mense reeds in hegtenis geneem vir Titus se moord.

Die soektog na die verdagte bekend as MJ gaan voort. (Berig deur Liesel le Roux)

Log in with your credentials

Forgot your details?