Klag ook teen Deon Bosman ingedien

Die foto is deur Steve Robson op Facebook gepos.

Die foto is deur Steve Robson op Facebook gepos.


Die Oudtshoorn-sakeman Deon Bosman (60) is gedagvaar om môre (Maandag, 22 Januarie) in die Oudtshoorn Landdroshof te verskyn nadat ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen hom ingedien is. Bosman is gisteroggend (Saterdag, 20 Januarie) in hegtenis geneem. Hy is later op sy eie verantwoordelikheid vrygelaat.

Dié klag teen Bosman spruit uit dieselfde voorval verlede Woensdag waaroor hy ook ’n klag van aanranding by die polisie ingedien en waaroor Die Hoorn reeds berig het. Bosman beweer dat hy in sy besigheid met die hand en daarna ook met ’n knuppel oor die kop geslaan is. Dié klag word na verneem word steeds ondersoek.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die klag teen Bosman Vrydag deur nog ’n sakeman, Steve Robson van De Rust, by die polisie ingedien. Luidens Robson se klag is hy na bewering met ’n knuppel aangerand.

Robson en sy eggenoot Minnie het hulleself verlede week op die Facebook-groep Oudtshoorniete staan saam geïdentifiseer as die mense wat in die onderonsie met Bosman betrokke was. Robson het ’n foto van sy vrou met ’n suurstofmasker gepos, wat voorkom of dit in die hospitaal geneem is asook sy weergawe van wat gebeur het. Dit wil voorkom of al die inskrywings oor die voorval intussen van die groep verwyder is.

Robson dui in sy skrywe onder meer aan dat hulle na die hospitaal moes gaan vir behandeling nadat Bosman hulle met pepersproei gespuit het, en dat sy vrou vyf inspuitings moes kry vir pyn.

Bosman moes ses steke in sy kop kry nadat hy na bewering tydens die onderonsie met ’n knuppel oor die kop geslaan is. (Berig deur Liesel le Roux)

Log in with your credentials

Forgot your details?