Joel se droom om “off the grid” te lewe nou ‘n werklikheid!

Joel Immermann by die swembadjie waarin die oorloopwater van sy reservoir vloei. In die agtergrond is die houthuis wat hy self gebou het,

Joel Immermann by die swembadjie waarin die oorloopwater van sy reservoir vloei. In die agtergrond is die houthuis wat hy self gebou het.

Deur Schalk le Roux (Berig en foto’s)

MIN mense kry dit reg om van ‘n idilliese droom soos om in ‘n skilderagtige omgewing in harmonie met die natuur te lewe ‘n werklikheid te maak.

Maar dit is presies wat Joel Immermann op die plaas Buffelsvlei (Buffels Valley) sowat 10 km van De Rust langs die pad na Willowmore gedoen het.

Hy het boonop sy “leefstylplaas” so ontwikkel dat hy “off the grid” lewe, met ander woorde hy maak geensins van munisipale dienste en water of van Eskom-krag gebruik nie.

Immermann,  wat in 1950 in Pretoria gebore is waar hy grootgeword en skoolgegaan het, vertel hy het ná skool in die verkoelingsbedryf begin werk, aanvanklik as ‘n vakleerling.

“Maans Karstens was die vakman (journeyman) wat my alles van die bedryf geleer het. Terwyl hy my opgelei het, het ek saam met hom die land vol gery om aan groot verkoelingsinstallasies te gaan werk.

“Op dié manier het ek groot dele van die land gesien. Die heuwels, berge en ander landskappe asook die natuur in die algemeen het my betower. Selfs daardie tyd al het ek daaraan begin dink om eendag in harmonie met die natuur te lewe op ‘n plek met pragtige uitsigte,” vertel hy.

Immermann, wat 22 jaar lank in die verkoelingsbedryf gewerk het, het benewens Pretoria ook vyf jaar lank in Durban gewoon en daarna 12 jaar lank in Kaapstad waar hy ‘n gastehuis bedryf het.

“Ek het baie lank in stede gewoon, en in ‘n stadium besluit ek het genoeg gehad van verkeer, besoedeling, gekontamineerde water, stres en al die daarmee gepaardgaande dinge.

“In 2006 het ek begin soek na die ideale plek vir my. ’n Eiendom midde-in die natuur met mooi uitsigte en met ‘n standhoudende, natuurlike en onbesoedelde waterbron was van die belangrike kriteria vir my.”

Joel Immermann wat sy eie organiese kompos maak met tuinafval en perdemis.

Joel Immermann wat sy eie organiese kompos maak met tuinafval en perdemis.

Immermann vertel hy het na minstens 20 plase in onder meer die Weskus-streek, en die distrikte van Riebeeck Kasteel, Riversdal, Seweweekspoort, Barrydale en De Rust gaan kyk.

Hy het baie van De Rust gehou, en eindelik ’n plaas van sowat 1 000 ha by Oubaas en Vicky Schoeman gekoop. “Nadat Oubaas die grond vir my gewys het, het ek geweet dit is wat ek wil hê.”

Die grond, wat grootliks onontwikkel was en geen huise op gehad het nie, is noord van die De Rust/Willowmorepad in die voetheuwels van die Swartberge geleë.

Immermann vertel het ‘n aanbod op die grond gemaak onderhewig daaraan dat hy sy huis in Kaapstad verkoop. Sy huis was al twee jaar lank in die mark en hy kon nie ‘n koper daarvoor kry nie.

“Ek het vir die eiendomsagent gesê die huis móét nou verkoop. Hy het dit toe die volgende naweek vir die soveelste keer geskou. En soos die voorsienigheid dit wou hê, het iemand daai naweek die huis gekoop. Hy het my prys betaal sonder om te kibbel.”

So het die plaas Immermann s’n geword en is dit in Januarie 2008 op sy naam oorgedra. Hy het in daardie stadium nie genoeg geld beskikbaar gehad om vir hom ‘n huis op die plaas te bou nie.

Hy het toe op De Rust gebly totdat van sy beleggings losgekom het en hy met die bou van sy huis en ander ontwikkelings kon begin. Hy het op 16 Desember 2011 in sy huis, wat hy eiehandig van hout met die hulp van ‘n paar helpers gebou het, ingetrek.

Die uitsig oor die Swartberge vanaf die huis se voorstoep.

Die uitsig oor die Swartberge vanaf die huis se voorstoep.

Sy benadering met die bou van die huis was om heeltemal “off the grid” te wees en om soveel as moontlik uitsigte vanuit die huis oor die berge rondom sy huis te hê. Die klem was op leefstyl. “Ek wou van geen munisipale dienste of van Eskom se elektrisiteit afhanklik wees nie en soveel as moontlik in harmonie met die natuur lewe met so ‘n klein impak as moontlik op die omgewing.”

Immermann kry sy water van ‘n standhoudende waterbron in die Swartberge. Hy het 5,6 km se pyp aangelê om die water met die hulp van swaartekrag by ‘n reservoir net bokant sy huis te kry. Net onder die reservoir is ‘n klein swembadjie wat met die oorloopwater uit die reservoir gevul word.

Sy elektrisiteit kry hy van sonpanele en warm water van ‘n songeiser. Hy het ook ‘n sonoond wat hy gebruik om kos te maak. Om seker te maak dat hy genoeg warm water in die winter het, het hy ‘n metaaldonkie in sy huis se woonvertrek. Die donkie, wat met ‘n paar stukke brandhout gestook word, maak ook sommer die huis warm, vertel hy.

Immermann het reeds met die permakultuurmetode tuin begin maak. Hy het as’t ware sy eie klein woud geplant van inheemse bome gemeng met ‘n verskeidenheid van vrugte- en neutbome, insluitend avokadopeer, perskes, appelkose, persimmon, makadamia, pekan en amandel. Hy het al meer as 100 bome geplant. In sy tuin is ook ‘n wye verskeidenheid groente en kruie soos mielies, tamaties, gemmer, borrie en stevia, om maar enkeles te noem.

'n Deel van die tuin wat volgens die beginsels van permakultuur verbou word.

‘n Deel van die tuin wat volgens die beginsels van permakultuur verbou word.

En alles word heeltemal organies gekweek. Hy gebruik skoon bergwater om met onder meer drupbesproeiing sy tuine en bome nat te lei. Hy het ook sy eie komposhoop op die plaas wat hy maak met plantafval en perdemis wat hy op ‘n plaas in die omgewing gaan haal. “Ek gebruik geen kunsmis of chemiese middels soos insek- en plaagdoder nie,” beklemtoon hy. Hy doen baie van die tuinwerk self, maar het ‘n werker op die plaas wat hom help.   

Selfs die huis se riool word benut. Hy het ‘n “biogas-digester” waarmee hy metaangas maak. Al sy riool vloei daarheen en hy voeg dan onder meer blaarryke groente-afval daarby. Die gas word dan vrygestel.

Immermann sê daar is koedoes, klipspringers, reebokke, aardvarke, ystervarke, rooikatte, skilpaaie en ander wildlewe op sy plaas. “Ek het ook al op luiperdmis afgekom,” voeg hy by. Voorts is daar ‘n wye verskeidenheid voëls wat ‘n witkruisarendbroeipaar insluit. “Ek het selfs al visarende hier gesien.”

In sy omswerwinge op die plaas het hy op meer as een pragtige waterval afgekom wat hom baie vreugde verskaf.

Die 66-jargie Immermann, wat nog sy lewe lank aktief is, is baie gesondheidsbewus. “Ek was laas by ‘n dokter toe ek 38 jaar oud was. Die dokter het toe ‘n volledige ondersoek en toetse gedoen. Alles het goed gelyk, behalwe dat my cholesterol hoog was.” Hy vertel hy het die nodige dieet-aanpassings gedoen en was sedertdien nog nooit weer by ‘n dokter nie. Hy het sedertdien ook nooit weer enige allopatiese medisyne, soos asperien, panado, antibiotikum, anti-imflammatoriese middels ens gebruik nie. Wanneer dit nodig raak, gebruik hy wel ‘n natuurlike geneesmiddel of twee wat hy self maak. Hy het geen siekefonds nie.

Selfs vanuit die badkamer is daar 'n onbelemmerde uitsig oor die Kammanassieberge.

Selfs vanuit die badkamer is daar ‘n onbelemmerde uitsig oor die Kammanassieberge.

Behalwe vir ‘n stuk boerseep waarmee hy sy hande was en skeer, gebruik hy geen seep, sjampoe of ander chemiese middels in sy huis nie. Hy was homself met skoon bergwater, vertel hy.

Hy eet wel reeds groente en kruie uit sy tuin, maar die vrugte- en neutbome het nog nie werklik begin dra nie.

Hy eet slegs wildsvleis omdat plaasdiere se vleis meestal nie organies is nie. Hy sê in die verkoelingsbedryf het hy boonop te veel goed gesien wat hom van winkelvleis afgesit het.

Immermann sê hy lewe relatief baie goedkoop. Sy grootste enkele maandelikse uitgawe is diesel vir sy Hilux-bakkie. Hy gaan gemiddeld een keer ‘n week dorp toe vir inkopies.

Hy het tans twee aandeelhouers in die plaas. John van Reenen, oud-Springbok-diskusgooier en skilder, vir wie Immermann ook ‘n houthuis nie ver van sy eie af nie gebou het, was ‘n aandeelhouer. Van Reenen, wie se een been weens mediese redes afgesit is, kon egter nie meer op die plaas bly nie. Sy aandeel is aan Richard Pocock, wat in permakultuur spesialiseer, verkoop. Pocock, sy vrou en twee kinders bly deels in Durban en deels op die plaas.

Intussen het Peter Ranby, ‘n aardrykskundige wat by die Universiteit van Kaapstad klasgee en handboeke vir skole skryf, ook ‘n aandeel in die plaas gekoop. Immermann is besig om vir Ranby ‘n huis met klippe van die omgewing ‘n kilometer of twee van sy eie huis af te bou. Dié pragtige huis is byna klaar gebou. Vir die bou van die huis het Immermann ‘n spesialis-klipmesselaar van Kaapstad gekry.

Op ‘n vraag of dit nie soms eensaam op die plaas raak nie, sê Immermann om in so ‘n pragtige omgewing te woon is vir hom ononderhandelbaar. Sy twee dogters en sy vriendin kom wel by hom op die plaas kuier. “Gelukkig is ek goed georganiseerd en goed met my hande, en hou ek myself besig.” Hy het ook DSTV in sy huis en kan saans televisie kyk.

Die pad na sy huis vanaf die teerpad is ‘n smal tweespoorpaadjie wat met die onlangse reën taamlik verspoel het en tydens Die Hoorn se besoek nie in ‘n goeie toestand was nie. Immermann sê die pad sal wel weer verbeter soos daar op gery word.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?