Twee jonges se epiese perderit nader einde

Hannelie Bremer en Petrus Bezuidenhout net nadat hulle met hul perde op Oudtshoorn by die skougronde aangekom het ná sowat 80 dae in die saal. Foto: Schalk le Roux

Deur Schalk le Roux

TWEE jong perdeliefhebbers van Heidelberg in Gauteng het Vrydag op Oudtshoorn aangekom ná langer as twee en ’n half maande en sowat 1400 km in die saal “om die aandag te vestig op die wrede manier wat baie perde vandag nog ingebreek word”.

Petrus Bezuidenhout (18) en Hannelie Bremer (19), wat albei verlede jaar matriek geskryf het, het op 1 Desember verlede jaar te perd uit Heidelberg vertrek en is op pad na Gouritzriviermond waar hulle na verwagting die naweek sal aankom.

Hannelie het Vrydag op die boerperd Roemryke Tommie op Oudtshoorn aangekom en Petrus op Carlisle Sabbatini.

Hulle werk vir die Carlisle-perdestoet by Heidelberg en glo perde moet eerder “mak gemaak” as “ingebreek” word.

Hul metode behels dat hulle die perde se vertroue wen met hul liggaamstaal en sodoende die perde mak maak.

Petrus vertel tydens hul epiese rit het hulle sover hul kon op grondpaaie gery en gemiddeld sowat 30 km per dag afgelê.

Van Heidelberg is hulle onder meer deur Heilbron, Petrus Steyn, Lindley, Senekal, Clocolan, Ladybrand, Hobhouse, Smithfield, by Bethulie oor die Oranjerivier, Venterstad, Steynsburg, Graaff-Reinet, Willowmore, deur Toorwaterpoort na De Rust, Dysselsdorp tot op Oudtshoorn, waar hulle Vrydagaand by Johan Uys, bekende buitelug-liefhebber, oornag het. Hulle het vroeg Saterdag-oggend weer uit Oudtshoorn vertrek.

In die Karoo het hulle rukke langs die treinspoor en nabygeleë grondpaaie gery.

Hulle vertel ’n hoogtepunt van hul reis was die gedeelte deur Toorwaterpoort.

Volgens Hannelie was die natuurskoon werklik besonders, maar was die roete baie moeiliker as wat die mense vooraf vir hulle gesê het. “Ons het die heeltyd in die rivierbedding of stukke langs die spoor gery.

“Dit was beslis die klipperigste gedeelte van die pad wat ons gery het, wat dit veral vir die perde moeilik gemaak het. Maar ons perde was twee ware staatmakers en is sonder enige voorval daardeur.”

Van Oudtshoorn het Petrus en Hannelie oor die Robinsonpas gery en net anderkant Eight Bells Hotel regs gedraai, van waar hulle oor Herbertsdale na Gouritsriviermond ry. Hulle beplan om Vrydag op Gouritsriviermond aan te kom waar hulle ouers hulle sal inwag.

Hannelie sê nog ’n rede hoekom hulle die perde-rit aangepak het, was om jongmense aan te moe-dig om “betekenisvolle avonture” aan te pak.

Tydens die rit het hulle hoofsaaklik op plase by boere aangeklop en vir slaapplek gevra. “Die boere was in die algemeen ongelooflik gasvry.”

Van die boere het hulle ’n bietjie laat werk vir hul verblyf, wat hulle al te graag gedoen het.

Die twee, wat hulle ligte bagasie saam met hulle op hul perde gedra het, vertel hulle het agt nagte in die veld geslaap en een nag tydens ’n donderstorm in ’n leë ou hoenderhok!

Hoewel hulle soms baie moeg geraak het weens onder meer die hitte, was en is dit ’n onvergeetlike ervaring! Hulle moes ook ’n slag of wat vir ’n paar dae sonder bad of stort klaarkom en moes maar uit ’n emmer was!

“Ons het baie mense leer ken en goeie vriende gemaak. Ons het ook karakter en geloof gebou en geleer wat uithouvermoë is.

“En moenie dink ons het nie soms gestry en verskil nie, maar dit is maar deel van die lewe en is onbelangrik. Daar is ’n oplossing vir alles.

“En laaste maar nie die minste nie: ons perde is ware helde,” vertel Hannelie.

Petrus en Hannelie het ’n Facebookblad geskep met foto’s van en inligting oor hul rit. Belangstellendes kan na www.facebook.com/reacttrip gaan.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?