Townshiptoer op Calitzdorp ’n nuwe belewenis

’n nuwe Townshiptoer in Bergsig, Calitzdorp neem besoekers onder meer op ’n “shack”-toer waartydens hulle sowat 300 m deur ’n klompie sinkhuise kan stap om ’n kykie te kry in inwo­ners se leefwyse.            Foto verskaf

’n nuwe Townshiptoer in Bergsig, Calitzdorp neem besoekers onder meer op ’n “shack”-toer waartydens hulle sowat 300 m deur ’n klompie sinkhuise kan stap om ’n kykie te kry in inwo­ners se leefwyse. Foto verskaf

Deur Tisha Steyn
BESOEKERS aan die Klein Karoodorp, Calitzdorp, kan voortaan ’n nuwe belewenis ervaar.

Die Bergsig Townshiptoer is pas bekend gestel.

“Sowat ’n jaar gelede het Open Africa, wat toere in die landelike gebiede van Afrika bevorder, Kannaland genader om toere in die gebied te ont­wik­kel,” sê Erina Meiring, hoof van Calitzdorp Toe­­risme.

In samewerking met ’n inwonerskomitee van Bergsig is ’n aantal moontlike toeristebestemmings in die woonbuurt identifiseer.
’n Groep inwoners en eienaars van sakeondernemings van die dorp is genooi om op 14 Februarie ’n bekendstellingstoer mee te maak.

Ses besoekpunte sluit die volgende in:
• Die Bergsig Voorskoolse Sentrum: waar besoekers geleentheid kry om interaksie te hê met die kleuters;
• Shack-toer: Besoekers onderneem ’n staptoer van sowat 300 m deur ’n klompie sinkhuise om ’n kykie te kry in inwoners se leefwyse;
• Drie kunstenaars: Besoekers besoek die kuns­tenaars, Hendrik Tiemie, wat kuns met draadwerk doen, Johannes van Wyngaard van Masimo Crafts wat gebruiksartikels uit leer vervaardig, en Apolis Beginsel, ’n skilder. Die kunstenaars se werk word te koop aangebied.
• ’n Besoek aan ’n mediese kompleks by die Tuberkulose-hospitaal, verpleegstersehuis, ambulansdiens en lykshuis, wat in 1948 gebou is en nou grotendeels vir behuising gebruik word.
• ’n Besoek aan die “Ou Kas” – die plek waar Bergsig ontstaan het en waar die eerste 20 huisies in 1948 gebou is.
• Die toer word afgesluit met ’n besoek aan die Helpmekaar-klub waar hulle die bejaardes wat soggens hier besig gehou word, beter kan leer ken. Besoekers geniet hier roosterkoek en gemmerbier en word vermaak deur toneelspel, sang en danse.

Toere word vanaf die Toerismekantoor onder­neem en word Dinsdag, Woensdag en Donderdag tussen 09:00 en 12:00, en Maandag tot Saterdagmiddag tussen 14:00 en 16:00 onderneem.

Vervoer met minibus-taxi’s neem die besoekers na Bergsig, waar hulle begelei word deur die opgeleide toergids Charl Ewerts.
Verversings in die bussies sluit koue water en seisoenale vrugte in.

Die koste van R250 sluit die toer, maar nie die vervoer in nie en geld slegs wanneer die gids saam met die toeriste in hul voertuig ry. Toeriste wat van die bussie gebruik wil maak, moet R150 ekstra per persoon opdok, en daar moet meer as vier persone wees wat van die diens gebruik maak.

Vooraf bespreking is noodsaaklik. Bespreek by Meiring by 044 213 3775 of tourism@calitzdorp.org.za.

Log in with your credentials

Forgot your details?