Swartbergpas nou ‘voorwaardelik’ oop

Werkspanne nog besig tot in Maart 2018

Die Wes-Kaapse minister van Vervoer en Openbare Werke, Donald Grant (met blou hemp), het die Swartbergpas verlede week besoek om hom te vergewis van die vordering van die herstelwerk. Hier is hy saam met die werkspan, wat besig is om die bou- en opknapwerk in 'n rekordtyd te voltooi. Foto: Linda Jaquet

Die Wes-Kaapse minister van Vervoer en Openbare Werke, Donald Grant (met blou hemp), het die Swartbergpas verlede week besoek om hom te vergewis van die vordering van die herstelwerk. Hier is hy saam met die werkspan, wat besig is om die bou- en opknapwerk in ‘n rekordtyd te voltooi. Foto: Linda Jaquet

Deur Marlene Malan
GOEIE nuus vandeesweek vir toe­ris­me in die streek is dat verkeer vanaf Vrydag – en ook gedurende weeksdae – die Swartbergpas kan gebruik. Herstel­werk aan die pas gaan egter nog voort en padgebruikers kan stop/ry-punte op die pad verwag.

Die omvattende herstelwerk aan die noordekant van die Swartbergpas ná ’n flitsvloed in April vanjaar sal in Maart volgende jaar voltooi wees.

Die pas is reeds die afgelope maand oor naweke – van Donderdae 17:00 tot Maandae 07:30 – vir verkeer oopgestel.

Herstelwerk aan die padoppervlak is voltooi “en is beter as ooit tevore,” het Linda Jaquet, onderburgemeester van Prins Albert en voorsitter van die Swartbergpas-aksiegroep, by navraag gesê.

Die padwerkspan werk nou aan nie-oppervlak-gedeeltes, soos die bo-mure.

Die gedeeltelike opening van die pas is wyd in toerismekringe verwelkom, veral in Oudtshoorn en Prins Albert, die twee dorpe aan weerkante van dié pas.

Prins Albert het sedert April ekonomies erg gely onder die sluiting van die pas nadat die vloed die padgedeelte nét noord van Eerstewater, verwoes het.

Die Wes-Kaapse Departement Vervoer en Openbare Werke, onder lei­ding van minister Donald Grant, het die herstelprojek geprioritiseer weens die negatiewe invloed op Prins Albert se toerisme en dus sy ekonomie.

Hoewel Grant R30 miljoen vir die herstelprojek begroot het, is die totale koste tot dusver om en by R10 mil­joen, sê Byron la Hoe, woord­voer­der vir die departement. “Die beoogde voltooiing is in Maart 2018.”

Aanvanklik is geraam dat die herstelwerk 18 maande gaan duur.
Grant het die werkspan verlede week besoek en hulle met hul harde, deeglike werk gekomplimenteer.
Dié beperkte oopstelling van die Swartbergpas help dat Prins Albert “weer kan asemhaal”, volgens die voorsitter van die dorp se toerisme­vereniging, Shaun van der Walt. “Dis soos water wat vir die eerste keer in ’n dam inloop.”

“Daar is ’n opgewondenheid in die dorp. Die toerismekantoor ontvang méér buitelandse besoekers wat nou weer glimlag as hulle navraag doen oor die pas. Die telefone lui, ons dorp se Saterdagmark raak voller en voller – ’n aanduiding dat meer mense Prins Albert oor naweke besoek.”

Ronel Pieterse, mede-eienaar van die Swartberg-hotel, het by navraag gesê dat hulle die afgelope maande heelwat kan­sellasies vir verblyf gekry het weens die padsluiting. “Gaste soek eers bevestiging dat die pas wél oop is voordat hulle finaal bespreek.”

Volgens Annelie Rabie, raadslid van die Sentraal-Karoo distriksmunisipaliteit, “het die afgelope maande se padsluiting weer eens bewys dat die toerismesektor van Prins Albert ernstig afhanklik is van die voete wat die pas genereer. Die sluiting het veroorsaak dat toerismegroepe, van klein tot groot, ons dorp eenvoudig nie besoek het nie”.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?