Rust en Vrede hopelik einde November oop

‘Toerisme ly as waterval nie toeganklik is nie’

Deur Liesel le Roux
DIE pad na een van Oudtshoorn se mooiste besienswaardighede is sedert April vanjaar gesluit en dit maak toerisme seer, sê toerismerolspelers op die dorp.

Die Rust en Vrede Waterval buite Oudts­hoorn en die pad wat daarheen lei, was vroeg April vanjaar ’n slagoffer van vloedskade na kwaai reën in die Swartberge, waarna die pad en die waterval tydelik vir die publiek gesluit is.

Die munisipaliteit is egter tans ver gevorder met herstelwerk en hoop dat die pad na die waterval toe weer einde Oktober oopgestel sal kan word.

Volgens Johan Fourie, raadslid belas met tegniese dienste, moet slegs die pad self nog geskraap word, maar is die ander vloedskade, soos aan die bruggies, reeds reggemaak.

Die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, sê die voetpad na die waterval is reeds herstel. “Die padspan sal binne die volgende twee weke met die herstel van die pad begin. Die Rust en Vrede Waterval sal hopelik einde Oktober oopgestel word vir toeriste.”

Boy Spies, eienaar van De Oude Meul, ’n gastehuis in Schoemanshoek, sê hy ontvang baie klagtes van toeriste wat voor ’n toe hek beland wanneer hulle die waterval wil besoek.

“Die waterval hou mense ’n dag langer in Oudts­hoorn en dit beteken baie vir die dorp se ekonomie. Toeriste wat langer op Oudtshoorn bly, beteken werkskepping,” sê hy.

Volgens Spies het hy herhaalde male die munisipaliteit hieroor gekontak, maar help dit oënskynlik niks. “Niemand kom terug na my nie en daar is geen vordering met die oopstel van die pad nie,” sê hy.

Die voorsitter van Oudtshoorn en De Rust Toe­risme, Billy Engelbrecht, het ook sy kommer daar­oor uitgespreek dat die waterval so lank al ontoeganklik is vir besoekers. “As die pad weer oopgestel kan word, sal besoekers nog ’n rede hê om langer op die dorp te bly,” het hy bygevoeg.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?