Prins Albert skud vere reg

PlaasKombuisfees – 27 tot 29 April

DIe terrein van die NG kerk Prins Albert word gereed gemaak vir die PlaasKombuis-fees aan die einde van die maand.                    Foto: Marlene Malan

DIe terrein van die NG kerk Prins Albert word gereed gemaak vir die PlaasKombuis-fees aan die einde van die maand. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
VAN skaapkop- en potjiekosetes tot varsgebak en lekkergoed, van rieldans tot kerk­orreluitvoerings, van blommekuns tot ’n spookhuis, van ’n biertuin tot ’n teetuin.

Dis wat Prins Albert se eerste PlaasKombuis-fees aanstaande naweek (27 tot 29 April) belowe sodat dorpinwo­ners en gaste lekker kan terugsit, ontspan en kopstukke gesels – in die geselskap van musiekgroepe en sangers van die omge­wing, en met die hoogtepunt ’n vertoning deur die bekende Jak de Priester.

Alles gebeur op die terrein van die NG Kerk, want dié dorpsfees is daarop gemik om Prins Alberters ’n slag lekker te laat saamkuier; en die dorpe van die omge­wing te wys hoe ’n dorpsfees gevier word. Dit word gehou in die plek van die jaarlikse kerkbasaar en die afgelope twee jaar se kos-en-olyffees.

Hulle het soveel sma­ke en voorkeure moontlik in gedagte gehou, vertel die hoof­organiseerders, Madri Rossouw en Adele Hattingh.

Entrepreneurs van die dorp en omgewing kry die geleentheid om hul ware te ver­koop in stalletjies binne-in en buite die kerksaal. Van die ware wat hier te koop aangebied gaan word, is tuisgemaakte lek­kernye, konfyt en inlêprodukte, hand­werk, mooigoed vir vroue en meisies, sowel as nuwe en tweedehandse boeke.

Die musiek in die biertuin word verskaf deur Prins Albert se eie DJ Tobie, die groep Brass Strings van George, asook die sangers Anya Human en Anton Oosthuizen. Die orreliste wat uitvoerings in die kerk lewer, is Ben Reynecke, Peter Jonsson, William de Kock en Brian Cumming. Die rieldansgroep die Prins Albert Vastrappers tree ook op. Pret vir die kinders sluit in ’n spookhuis, kolwyntjieversierkuns en kostuumdragvertoning. En die manne kan hul stamina kom vertoon met ’n pitspoegkompetisie.

Die blommekuns van Johanna Luttig en Amelia le Grange van Prins Albert gaan die kerk in ’n lushof omskep en kan die hele naweek besigtig word.

Die geleentheid word afgesluit met ’n erediens Sondag deur ds Chris Briers, saam met die koorsang van Prins Albert Primêr en Heavenly Lights, gevolg deur ’n middagete by die Windpomp-restaurant op die skouterrein.

Bespreek die volgende kaartjies by Adele Hattingh (082 639 8647 / 023 541 1510):
• Jak de Priester (28 April, 20:00): Kaartjies R120 en R100.
• Skaapkop-etes: R100 per kop.
• Potjiekos met bykosse, varsgebakte plaasbrood en konfyt: R100/persoon; R60/kind tot 12 jaar.
• Sondagmiddagete: R120/persoon; R60/kind tot 12 jaar.

Besoek Prins Albert Toerisme by www.princealbert.org.za vir besonderhede en die volledige driedagprogram.

Log in with your credentials

Forgot your details?