Meer besoek Kango Grotte

TEN SPYTE van ’n swakker rand en hoër petrolpryse het die aantal mense wat die Kango Grotte buite Oudtshoorn verlede jaar besoek het, toegeneem in vergelyking met dié van die vorige jaar.

In 2017 het 270 061 mense dié wêreldbekende grotte met hul druipsteenformasies besoek teenoor 241 587 in 2016. Tien jaar gelede, in 2007, was 265 563 besoekers by die Kango Grotte.

Van die 270 061 besoekers in 2017 was 162 922 buitelanders en die res plaaslik. In Desember het veral binnelanders die Kango Grotte goed besoek met 19 522 mense uit Suid-Afrika wat daar was teenoor 11 443 uit die buiteland.

“Ons kan dit toeskryf aan ’n groter finansiële hupstoot in terme van bemarking. Ons is meer sigbaar as tevore,” sê Alison Moos, operasionele bestuurder van die Kango Grotte. Volgens Moos werk die Kango Grotte en Oudtshoorn Toerisme saam om die Kango Grotte te bemark en is die styging in besoekersgetalle die resultaat van meer agressiewe bemarking die afgelope sowat drie jaar. “Ons sien uit na meer goeie jare. Toe­risme is egter taamlik wisselvallig en enige verandering in die globale politieke sfeer, klimaatspatrone en selfs natuurrampe kan besoekersgetalle beïnvloed.”

Log in with your credentials

Forgot your details?