Fokus op Prins Albert: Gewilde bestemming

15 Prins Albert

Deur Marlene Malan
DIS moeilik om te besluit waarom Prins Albert so ’n gewilde toerismebestemming is.

Dat die sowat 10 000 inwoners egter hard saam met die munisipaliteit werk om die dorp ekonomies op dreef te hou, is gewis.
Dis waarom Prins Albert deesdae as die hoof-kultuurdorp van die Groot Karoo beskou word. Dit het ook ’n lewendige landbougemeenskap.

Van die belangrikste gebeurtenisse wat verantwoordelik is vir die dorp se positiewe openbare beeld, is die KykNet-werklikheidsreeks Kokkedoor meer as vyf jaar gelede, die aanwysing in 2012 van Prins Albert as die Wes-Kaapse wenner in die Rapport/-Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie, die jaarlikse Prince Albert Leesfees, die landbouskou, die kunsweek en die #Us4Us-gemeenskapskonsert, en deesdae ook die Plaas-Kombuis-fees aan die einde van April.

Dis boonop ’n dorp wat met twee teaters spog – die Jans Rautenbach Schouburg en The Showroom Theatre. En die rieldansgroep Die Prins Albert Vastrappers maak deesdae oral naam.

Vrydagmiddae, hier rondom sesuur, staan die hoofstraat vol motors met vreemde registrasie-nommers. Inwoners en toeriste sit restaurantstoepe vol; gastehuiseienaars het hul hande vol; en die dorp se enigste kruidenierswinkel se voorraad begin uitdun.

Benewens die Swartberg Hotel is daar sowat 70 gastehuise van verskillende diens- en prysvlakke en talle uitsoek-eetplekke.

Dis ’n dorp met twee lewendige toerismeverenigings (Prince Albert Tourism en Prince Albert Accommodation) wat inwoners en besoekers op hoogte hou van aktiwiteite van akkommodasie, eetplekke en spysenieringsdienste, die gewilde spooktoer, uitstappies na die Swartberg en Die Hel (Gamkaskloof), tot gemeenskapsprojekte en inligting oor die 21 jaar oue Saterdagmark waar hand-werk en lekkernye te koop is.

Prins Albert se hooflandbouprodukte is wyn, vye, olywe en kaas. Op die pad na Klaarstroom, in ’n gebied wat as Die Gang bekend staan, is die wynplase Bergwater, Fernskloof en Reiersvlei, en in die middel van dorp, aan die hoofstraat, Suid-Afrika se kleinste wynlandgoed, Soet-Karoo. Gay’s Dairy is beroemd vir sy groot verskeidenheid tuisgemaakte kaassoorte en word bedryf van die stuk grond waar die heel eerste plaas, De Queekvalley, in 1762 aangelê is. Olywe is ’n groot aantrekkingskrag, met die belangrikste olyfplase O for Olive (voorheen Swartrivier), Prince Albert Olives en Kredouw.

Log in with your credentials

Forgot your details?