Fokus op Prins Albert: Blinde Piet Vries kan nou fietsry plaas toe na sy skape

Piet Vries (links) van Prins Albert by sy nuwe tandfemfiets saam met sy jong vriend Quinton Sass wat die fiets vir hom “bestuur”.            Foto: Marlene Malan

Piet Vries (links) van Prins Albert by sy nuwe tandfemfiets saam met sy jong vriend Quinton Sass wat die fiets vir hom “bestuur”. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
VIR Piet Vries van Prins Albert was ’n eie fiets om sy lewe makliker te maak jare lank ’n droom.

Verlede Vrydag het dié droom waar geword toe hy een as geskenk gekry het waarmee hy soggens die tien kilometer van sy huis na sy vee op ’n plaas buite die dorp kan ry.

Daar was net een voorwaarde: Dit sou ’n tandem moes wees, sodat sy jong vriend en steunpilaar, Quinton Sass, die bestuurwerk kan doen.

Want Vries (52) is al dekades lank blind.

Van die werk agter die skerms om dit moontlik te maak het hy nie geweet nie. Daar is met ’n liefdadigheidsgroep van die dorp, The Thursday La-dies, onderhandel om daarvoor te betaal.

Hy is net uitgenooi om stiptelik om vieruur by die fiets­winkel in Kerkstraat, die eiendom van Arno Botha, aan te meld. Daar is hy ingelig dat hy ’n tandemfiets kry en dat daarvoor betaal is.

The Thursday Ladies bestaan uit ’n groep plaaslike vroue wat geld insamel om te help voorsien in die behoeftes van verdienstelike gevalle op die dorp.

’n Paar Prins Alberters wat die oorhandigingsgeleentheid bygewoon het, het saam met Vries gejuig toe Botha aan hom gesê het dis ’n geskenk wat hy deur en deur verdien.

Volgens Botha het Vries, van die woonbuurt Noord­einde, “sowat ’n jaar gelede by die fiets­winkel ingestap aan die arm van sy vrou en my vertel dat hy ’n fiets nodig het om soggens by sy paar stuks vee op die plaas, Treintjiesrivier, uit te kom. Ons het sommer net gesels en ek kon sy entoesiasme vir die lewe en hunkering na ’n fiets aanvoel.

“Piet het met sy blindheid en al elke dag die tien kilometer saam met Quinton gestap om by die diere te wees. Sy knie het probleme begin gee – daarom wou hy eerder fietsry. Voordat hy heeltemal blind geword het, het hy baie fietsgery.”
Botha se vrou, Vanessa, vertel Vries het in sy jongdae ’n besering opgedoen toe hy met sy mi­litêre opleiding besig was en dit nie betyds aandag gekry het nie.

Hy was onmiddellik blind in sy regteroog, en het gaandeweg ook die sig in sy linkeroog verloor.
Toe die linkeroog nog net baie swak was, het hy met sy fiets tot by Treintjiesrivier getrap. Vandat hy heeltemal blind is, moet hy elke dag soontoe en terug stap, vertel Vanessa.

“Hy het my ’n jaar gelede gevra om vir hom ’n tandem te soek sodat hy daarheen kan ry. Onlangs het ek die regte fiets vir hom gevind, maar hy kon dit nie bekostig nie. Ek het toe ’n versoek aan die Thursday Ladies gerig om vir die fiets te betaal.”

Toe Vries Vrydag die eerste keer aan die handvatsels vat, kon hy sy trane nie keer nie.

“Ek het so lank hiervoor gewag. Nou is my lewe skielik baie makliker. Ek kan nie genoeg dankie sê nie,” het hy gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?