Eersdaags weer bloeiselnaweek

DE KRANS WYNKELDER in Calitzdorp bied die naweek van 2 en 3 September weer soos die vorige jare ’n Lentebloeisel-naweek in Calitzdorp aan.

Begin September is die appelkoos- en perskebome van De Krans vol in die blom, wat dit ’n besonderse prentjie maak om te aanskou. Dié lentebloeisels kondig ook die begin van ’n nuwe jaar aan vir die vrugte- en wynbedryf in Calitzdorp.

De Krans bied die volgende geleenthede vir besoekers aan:
• Kry die geleentheid om tussen die vrugtebome van De Krans te loop om die pragtige lentebloeisels van naby te sien en te fotografeer. Groot wynpryse is op die spel vir die mooiste foto’s wat op enige van hierdie dae by De Krans geneem word. Die wenner van die fotokompetisie kry vanjaar sy/haar gewig in port en wyn van De Krans!

• Kom plant jou eie wingerdstokkies op Saterdag 2 September om 11:00 en neem dit aan teen R20 per stokkie. Alle fondse wat hierdeur verkry word, sal geskenk word aan die Hope Options Centre in Calitzdorp. Jy kan self besluit hoeveel wingerdstokkies jy daardie dag wil plant. (Vooraf bespreking hiervoor is egter noodsaaklik).

• ’n Markdag op die Saterdag vanaf 10:00 laat die kollig val op nuwe lewe in die lente. Inheemse plante en bome, kruie en tuisgemaakte produkte van Calitzdorp, asook wyne van die boetiek-wynprodusente van Calitzdorp sal by die unieke mark te koop wees.

• ’n Pretdraf/stap (keuse van 5 km of 10 km) vind die Saterdag om 09:00 plaas, met wynmaker Louis van der Riet wat die atlete en stappers sal afsit met ‘n “sabrage” (swaard) van ons De Krans MCC (vonkelwyn). Inskrywings in by De Krans vanaf 8.30.

De Krans se Bistro sal oop wees op beide dae vanaf 09:00 tot 16:30.
• Bespreek ook vir die Calitzdorp High Tea om 11:00 op die Sondag. Dit gaan nie ’n gewone “high tea” wees nie, maar ’n geleentheid om De Krans se porte van nader te leer ken. (R90 per persoon, met besprekings noodsaaklik).

• Besoekers sal ook die kans kry om interessante skemerkelkies te geniet met die skemerkelkieuur die Sondag on 12:00.

Navrae of besprekings by Bessie Swanepoel (044 213 3314 of dekrans@mweb.co.za).

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?